Hopefield het Saterdag (15 Maart) sy kans om ‘n eerste oorwinning op die Grafkelder te behaal, deur sy bottervingers laat glip. Dié span was wel rustyd 7-13 voor, maar kon nie hierop voortbou nie en het die wedstryd 20-25 verloor.
Die besoekende Patattrappers moes wel die eerste tien minute die meeste van die verdediging doen en het ook ‘n aanslag van die tuisspan, Young Hearts, naby hul eie doellyn afgeweer.
Hopefield, wat wel eerste punte danksy ‘n strafskop behaal het, kon egter nie die tuisspan se volgende aanslag afweer nie en Young Hearts het met ‘n verdoelde drie die voortou geneem.
Hopefield het daarna met goeie aanvallende spel die tuisspan op die agtervoet gehou, maar gereeld die bal met aanslane verloor.
Hopefield het die tuisskare met ‘n 60-m-strafskop stil gehad en met een punt wat die twee spanne skei, het beide die beste van die slegste probeer maak. Hopefield het die tuisspan en sy ondersteuners egter met ‘n verdoelde drie verslae gehad.
Die besoekers het daarna die meeste van die verdediging gedoen en die tuisspan verhinder om enige punte aan te teken.
Young Hearts het in die tweede helfte gewys dat op die Grafkelder diep gedelf moet word vir ‘n oorwinning.
Hopefield, wat nooit opgegee het nie, kon net nie die opwindende agterlyn van die tuisspan in toom hou nie. Dit het ‘n deurslaggewende rol in die tuisspan se oorwinning gespeel. Young Hearts het uiteindelik met twee strafskoppe, een verdoelde drie en een onverdoelde drie teenoor die besoekers se verdoelde drie in die tweede helfte die oorwinning verseker.
Die besoekers, wat die laaste vyf minute meters van die tuisspan se doelyn was, kon egter nie die uitklophou plant nie. Die tuisspan se rotsvaste verdediging teenoor die besoekers, wat nie goeie balbesit kon behou nie, het verseker dat die tuisspan sy eerste wedstryd met ‘n oorwinning inlui.
Ander uitslae:
• Weskus
Young Hearts 25-20 Hopefield, Velddrif 29-25 Paternoster, Langebaan 12-17 St. Helenabaai, Steenberg’s Cove 13-34 Saldanha en Piketberg 34-44 Vredenburg.
• Swartland
Voorberg 21-22 Moorreesburg,
Mamre 18-20 Wesbank, Never Despairs 19-17 Goodhopes, Riebeeck United 26-23 Darling, Saron 43-19 Porterville en Villagers Wittewater 21-29 Abbotsdale.





