Inwoners van Wyk 10 in Vredenburg het hul kommer uitgespreek oor ‘n huiswinkel in Houtkapperstraat, Louwville.
Volgens inwoners is hulle onsteld oor die winkel, wat steeds handel dryf terwyl nog gewag word vir goedkeuring om voort te gaan.
Een inwoner het gesê ‘n petisie met meer as 120 handtekeninge is in Junie aan die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) oorhandig, maar ten spyte daarvan, asook besoeke deur wetstoepassers en boetes, is daar geen keer aan die handelaar nie.
Volgens die inwoner mag geen huiswinkel ingevolge die wet binne 300m loopafstand van ‘n bestaande onderneming op ‘n erf gesoneer vir sakedoeleindes geleë wees nie, die bedryf van ‘n huiswinkel mag nie ‘n openbare oorlas veroorsaak nie en oortreding van hierdie bepalings is strafbaar en kan tot boetes of vervolging lei.
“Die betrokke perseel is slegs ‘n paar huise van ‘n reeds gesoneerde sakeperseel geleë. In die verlede is soortgelyke aansoeke in dieselfde gebied geweier op grond van die 300-meter-bepaling, wat die vraag laat ontstaan waarom hierdie geval anders hanteer word.”
Weslander het ook al vantevore oor hierdie huiswinkel berig waar ‘n jongman ‘n winkelier gedreig het (“Winkeleienaar glo gedreig, met bier gegooi,” Weslander, Donderdag 23 Oktober) – ‘n voorval wat aan inwoners bewys het dat onwrigting reeds plaasgevind het. Volgens Tereza Burger, ‘n woordvoerder vir die SBM, is ‘n vergunningsgebruik-aansoek by die munisipaliteit ingedien met die versoek om ‘n huiswinkel op die perseel te bedryf.
“Die aansoek was onvolledig en aanvullende inligting is aangevra. Nadat die uitstaande inligting ontvang is, is die aansoek in September aan omliggende grondeienaars deur middel van ‘n 30-dae-kennisgewingtyd adverteer.
“Hierdie tydperk het aan die einde van Oktober verstryk.
“Ná die sluiting van die openbare deelnameproses einde Oktober is ‘n gemeenskapspetisie sowel as ander besware ontvang. Hierdie dokumentasie word aan die aansoeker deurgegee vir repliek op die petisie/beswaar aangeteken, waarna die munisipaliteit ‘n besluit oor die betrokke aansoek sal neem.
“Partye sal wel die reg op appèl hê na gelang van enige besluit (hetsy ‘n besluit van goed- of afkeuring).”
Burger voeg by die munisipaliteit kan bevestig dat wetstoepassers op al die klagtes rakende die huiswinkel by Houtkapperstraat 29 in Louwville gereageer het.
“Verskeie besoeke is gedoen en waar oortredings bevestig is, is skriftelike kennisgewings en boetes ingevolge die huiswinkelverordening uitgereik. Klagtes word steeds opgevolg soos dit ontvang word. In hierdie geval is verskeie anonieme klagtes ontvang.
“Hoewel alle insette deeglik oorweeg word, is anonieme klagtes dikwels onvoldoende vir formele handhawings- of regstappe, aangesien hierdie prosesse op verifieerbare inligting berus. Wat die veiligheidskwessies betref: Misdaadvoorvalle val onder die mandaat van die Suid-Afrikaanse Polisiediens.
“Enige polisie-inligting wat regstreeks verband hou met die bedryf van die perseel kan aan die munisipaliteit voorgelê word vir oorweging as deel van die lopende prosesse. Die aansoek vir die huiswinkel is tans in die formele beplanningsproses. Terwyl dit afgehandel word, bly wetstoepassers die perseel besoek en tree hulle ingevolge die wet op.
“Die betrokke perseel is slegs ‘n paar huise van ‘n reeds gesoneerde onderneming geleë.”
Burger sê Spreeustraat 37 en 39 is nie vir sakedoeleindes gesoneer nie. “Die eiendom het vergunningsgebruik vir ‘n winkel; dit is egter steeds ‘n residensieel gesoneerde perseel. Die beperking in die huiswinkelverordening geld dus nie in hierdie geval nie as gevolg van die sone-
ring van genoemde perseel. Let daarop dat die 300m-bepaling met die hersiene verordeninge van 2022/huiswinkelverording van 2022 verwyder is. Indien daar ‘n saak by die polisie is wat direk verband hou met aktiewe handel op die perseel, kan hierdie inligting aan die munisipaliteit verskaf word vir oorweging van die aansoek.”
Burger voeg by die munisipaliteit bly verbind tot billike, konsekwente en wetlike toepassing van sy verordeninge en sal gemeenskapsinsette verantwoordelik en binne die toepaslike wetgewing hanteer.



