“Ek is nie ‘n hero nie. Ek is net bly almal is oukei.”
Só sê Ronald Liebenberg, ‘n inwoner van Vredenburg, wat nie gehuiwer het om ‘n gesin in nood te help nie.
Op die regte plek en die regte tyd – dít is hoe ‘n mens Liebenberg se aankoms kan beskryf op die toneel van ‘n brandende huis in Athena-straat waar ‘n gesin van vyf én ‘n gesin in ‘n woonstel gewoon het.
Die brand het omstreeks 06:00 op Maandag 26 Januarie uitgebreek terwyl die ma, Thandokazi Mvubu, en haar drie kinders nog in die huis aan die slaap was.
Volgens Liebenberg, hul buurman, was hy op pad huis toe toe die voorval plaasgevind het. Hy het die geskree van ‘n kind gehoor, wat hom dadelik tot aksie aangespoor het.
“Die ma het geskree: My child is inside, en ek het dadelik na hom begin soek. Ek het begin ruite uitgooi op soek na die kind. Toe dit begin stil raak, het ek bekommerd geraak. Ek het die kamervenster gebreek, maar dit was so donker van die rook dat ‘n mens niks kon sien nie. Ek het begin rondvoel en dit was asof ‘n engel sy been gelig het sodat ek hom by die venster kon uitkry,” vertel Liebenberg.
Liebenberg meen hy is nie iemand wat eer soek nie en glo dat dit nie hy alleen was nie, maar “die Man van Bo”.
“ ’n Mens doen maar wat ‘n mens moet. Dit kon netsowel my kinders gewees het.”
Mlamli Mvubu, ‘n Transnet-werker, vertel hy is by die werk oor die brand ingelig. Mvubu se oudste seun het Downsindroom en hy glo dit is te danke aan Liebenberg dat hy nog lewe.
“Dit is net ‘n huis en ons het alles verloor, maar ‘n mens se familie kan nie vervang word nie. Hy het my kind gered en as dit nie vir hom was nie, sou ons vandag oor ‘n heel ander situasie gepraat het,” sê Mvubu.
Tydens die reddingspoging het Liebenberg sy hand met die glas van die ruit beseer en is hy saam met Mvubu se oudste in die hospitaal behandel.
Mvubu is dankbaar teenoor die gemeenskap wat ingespring het om met skenkings soos klere, skoene en kos te help.
Die omgeespan van die Esperia-buurtwag bedank elkeen wat benodigdhede aan die gesin geskenk het. Volgens Carli Smook, die sameroeper van die omgeegroep, was die reaksie ongelooflik. “Dit was wonderlik om te sien hoe ons gemeenskap kan saamstaan.”
Ethne Lawrence, ‘n woordvoerder vir die Saldanhabaai-munisipaliteit, het bevestig dat die oorsaak van die brand steeds ondersoek word.







