Die kaart van die beplande ontwikkeling.

Die inwoners om een van die enigste oop ruimtes oor in Langebaan, die driehoekige stuk Meeuwklip-grond, het as die Red Meeuwklip-aksiegroep nou amptelik geappelleer teen wat hulle as die “vergrype” van die Saldanhabaai-munisipaliteit beskryf.

Hulle het ook ‘n veldtog op Change.org van stapel gestuur teen die “swak nakoming van munisipale verordeninge en die gebrek aan werklike openbare deelname aan die ontwikkelingsprojekte” wat die ontwikkeling van Meeuwklip betref.

Inwoners sien daagliks nog bokkies, skilpaaie en ander wildlewe op die stuk grond in die hart van die dorp, wat verlede week skielik omhein is.

Die sakeman Dirk van der Merwe woon reg langs die stuk grond waarop Fase 1 van ontwikkeling, bekend as Lagoon Manor, reeds gebou is. Grondwerke en die verwydering van inheemse fynbos het reeds begin in die aantog na Fase 2 en 3 van die Meeuwklip-ontwikkeling.

Die aksiegroep meen die ontwikkeling kom nie munisipale verordeninge na wat veronderstel is om die omgewings- en sosiale struktuur van hul gemeenskap te beskerm nie. “Hierdie minagting vir re- gulasies is duidelik in die vernietiging van kosbare wildlewe-habitatte, flora en fauna. Die natuurlike ekostelsel wat vir geslagte hier floreer het, loop die gevaar om onomkeerbaar beskadig te word, wat nie net die biodiversiteit beïnvloed nie, maar ook die nalatenskap vir toekomstige geslagte.”

Die aksiegroep, wat ook ander inwoners en belanghebbendes van Langebaan insluit, is dit eens dat daar nie behoorlike beraadslaging en oorlegpleging – soos wat wetlik vereis word – met inwoners, wat direk deur die ontwikkeling geraak gaan word, was nie.

Baie mense het huise en erwe langs Meeuwklip gekoop, juis omdat dit as ‘n “groenstrook” beskryf is “wat nooit ontwikkel gaan word nie”. Inwoners meen ‘n ontwikkeling met sowat 233 wooneenhede gaan hul veiligheid en rustige bestaan en die wild en inheemse flora benadeel.

Hulle eis dat die SBM onmiddellik optree om dié oorsigte reg te stel. Dit sluit die deeglike hersiening van die ontwikkelings-

planne in en die versekering dat dit aan gevestigde verordeninge voldoen en openbare betrokkenheid verseker.

“ ’n Omvattende omgewingsassessering en deursigtige kommunikasie dwarsdeur hierdie proses is van die allergrootste belang,” lui die Change.org-petisie.

In ‘n vorige berig (” ‘Ons wil nie dié ontwikkeling hê’ sê Myburg-park-inwoners op Langebaan”), het Weslander geskryf oor inwoners se formele besware oor die “ge-

brekkige” openbaredeelnameproses.

Die aksiegroep appelleer spesifiek teen ‘n wysiging aan die oorspronklike onderverdelingsvoorwaarde vir Erf 10511 (Meeuweklip), spesifiek die vereiste vir ‘n openbaredeelnameproses met betrekking tot die opgedateerde argitektoniese ontwerpriglyne, wat die SBM in Oktober vanjaar goedgekeur het.

Dit skakel die openbaredeelnameproses uit. Op ‘n vraag op watter wetlike basis dié besluit berus, is Weslander na “die besluitbrief” verwys. Daarin sê SBM die wysiging van “voorwaarde (hh)” is in ooreenstemming met die Munisipale Stelselswet.

Volgens Burger is ‘n volledige openbaredeelnameproses wel gevolg met die besluit wat potensiële implikasies vir die prosedurele regte van belanghebbendes het. Die SBM het glo briewe aan omliggende grondeienaars, ‘n kennisgewing op die munisipale webtuiste én ‘n advertensie in Weslander geplaas. Die datum van die advertensie is nie saam met die terugvoer verskaf nie.

Die vraag waarom openbare deelname in 2019 as ‘n noodsaaklike vereiste beskou is, maar wysigings daartoe gelei het dat dit nou nie meer as nodig geag word nie, is nie beantwoord nie.

“Omliggende grondeienaars is die geleentheid gegun om op die aansoek kommentaar te lewer. Altesaam 58 besware en sewe kommentare is na afloop van die openbaredeelnameproses ontvang.”

Burger het bevestig dat die onderverdelingsregte vir fase 2 en 3 van die ontwikkeling reeds gedoen is en wou na aanleiding van ‘n vraag oor enige risiko- of impakstudies om moontlike gevolge vir omliggende eiendomswaardes en gemeenskapsbelange te bepaal, weet watter deel van die besluit eiendomwaardes raak.

Of die afskaffing van openbare deelname aan besluite oor ontwikkeling ‘n moontlike tendens aandui waar dit by toekomstige ontwikkelings verwyder gaan word, word op meriete bepaal, sê Burger.

“Die bepaling van watter soort aansoeke (minimum) openbare deelname verg (betekening van kennisgewings en/of koerantplasing) word bepaal ingevolge die verordening oor grondgebruikbeplanning [in die] Saldanhabaai-munisipaliteit.”

Die aksiegroep se uitsluiting uit openbare deelname het hulle en ander genoop om ‘n formele appèl in te dien.

Burger verduidelik appelle is van beide die applikant en die publiek ontvang. “Die verskillende appelle word versprei aan die verskillende partye vir kommentaar daarop, waarna die appelle, repliek daarop en ‘n verslag aan die Appèlgesag voorgehou sal word vir finale oorweging.”

Burger het benadruk dat die SBM by die besluit om die openbaredeelnameproses af te skaf, volstaan. “Daar is geen rede om die besluit te hersien nie.”

Van die wildlewe in die groenstrook wat nou toegekamp is, en nie vrylik kan rondbeweeg tussen buurte soos wat die oorspronklike stadsvaders beplan het nie.
Die grond waar Fase 2 en Fase3 gebou gaan word, is summier verlede week omhein.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article