VREDENBURG – Die tweede Gieters & Goeters-mark het Saterdag 24 Oktober besoekers gelok met ’n verskeidenheid handgemaakte produkte, tuisgebak, vars kos en plaaslike skeppings.
Altesaam 38 uitstallers het aan die mark deelgeneem en besoekers kon van handgemaakte seep, koekies, koeksisters en houtwerk tot juweliersware, speelgoed, vars slaaie, olywe en tuisgebakte lekkernye koop.
Daar was ook ’n verskeidenheid eetgoed beskikbaar.
Volgens Andrea Geyer, stigter van Gieters & Goeters, was die opkoms by die tweede mark besonder goed, met ’n aanhoudende stroom besoekers tot ongeveer 13:30.
Die visstalletjie was die topverkoper van die dag met produkte soos oliesnoek, bokkoms, regmakertjies en brandrigvis.
Geyer sê die mark word vanuit ’n liefde vir diensbaarheid en geloof aangebied.
Die organiseerders wil graag die mark verder ontwikkel as ’n ruimte waar plaaslike entrepreneurs hul produkte kan bemark, met ’n besondere fokus op handgemaakte items en plaaslike produkte.
“Ons probeer so plaaslik moontlik wees en wil graag meer handgemaakte produkte aanbied,” sê Geyer.
Sy sê hulle wil Gieters & Goeters laat herleef as ’n plek waar oud en jonk kan kom kuier en tyd saam deurbring. Daar word ook hard gewerk om die terrein meer rolstoelvriendelik te maak sodat dit vir almal toeganklik kan wees.
Die volgende markdag vind op Saterdag 21 November plaas, waarna die organiseerders tot Februarie 2027 ’n blaaskans sal neem.
Geyer nooi die gemeenskap om die mark te ondersteun en plaaslike uitstallers deel van dié inisiatief te maak.
LEES OOK: Hopefield hou gereeld markdag.












