Willem Visagie, ook bekend as Willem Links, Willem Swarts, Wolsak, Balsak óf Fernando, bots al 42 jaar met die gereg – sedert hy ’n elfjarige tjokkertjie was. Die vonnisse wat hy deur die jare op die hals gehaal het, bring hom geensins van stryk nie, want hy is nou wéér vir ’n rooftog in hegtenis geneem.
Visagie (53) het Maandag 16 Oktober die hoeveelste keer in die hof verskyn – dié keer in Vredenburg.
Volgens kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder, is Visagie al 21 keer op verskeie aanklagte in hegtenis geneem.
Die jongste misdaad waarvan hy aangekla word, is ’n rooftog by die huis van sy gewese meisie verlede Donderdagaand (12 Oktober).
Visagie het glo om 23:30 by die huis opgedaag en hom by die huis ingedwing. Hy het sy gewese meisie en haar dogter glo aangerand, waarna hy na bewering met ’n gasbottel en ’n herlaaibare lig gevlug het.
Helfrich het gesê Visagie het sy eerste misdaad in 1981 gepleeg. In dié jaar is hy twee keer in Redelinghuys in hegtenis geneem en skuldig bevind aan huisbraak en diefstal. Daarna, steeds in Redelinghuys, is hy in 1982 aangekeer vir diefstal, in 1985 vir twee sake van huisbraak en diefstal, en in 1987 vir aanranding. Hy is in 1987 ook in Piketberg en Eendekuil aangekeer – weer eens weens huisbraak.
Visagie is in 1988 vier keer in Vredenburg in hegtenis geneem en staan ook tereg op twee sake in Redelinghuys en Eendekuil. Die aanklagte sluit in diefstal, twee sake van aanranding met die doel om ernstig te beseer, en roof.
Visagie is in 1992 twee keer op aanklagte van huisbraak en diefstal skuldig bevind.
Twee klagtes van aanranding met die doel om ernstig te beseer is in 2001 teen hom aangemeld en hy is ook op sake in Vredenburg en Laaiplek skuldig bevind.
In 2002 is hy in Redelinghuys skuldig bevind vir die gebruik van ’n voertuig sonder toestemming en vyf jaar later is hy in Laaiplek vir dwelms voorgekeer.
Die polisie het hom ook in 2008 weer aangekeer weens twee geweldsmisdade in Elandsbaai en Laaiplek.
Visagie is in 2021 weer in Vredenburg skuldig bevind aan die verbreking van sy paroolvoorwaardes.
Dié gewoontemisdadiger is nou – twee jaar later – weer eens agter tralies.




