Die gemeenskap het nie Bybels nie, maar hul Bybelkennis het die uitreikspan diep beïndruk. Só vertel Annelie Steyn van Mumtaz Limitless, ‘n organisasie sonder winsbejag van die Weskus, ná hul terugkeer van Botswana, waar meer as 500 Bybels op ‘n onlangse uitreik versprei is.
Weslander het in die uitgawe van 15 Januarie (“Groot Bybelse uitreik na Botswana”) berig oor Annelie en haar man, Henk Steyn, wat saam met medegelowiges ‘n uitreik na Botswana onderneem het. Met 504 Bybels wat deur Walter Veith, aanbieder van die Clash of Minds-reeks, geskenk is, het die span op 25 Januarie vanuit Vredenburg vertrek en op 15 Februarie ná ‘n suksesvolle reis na die Weskus teruggekeer.
Volgens die Steyn-gesin het hulle tydens die uitreik verskeie besondere ervarings beleef, en hul paaie het met merkwaardige mense gekruis.
Op pad na Vaalpark, waar hulle vir Hilgard du Plessis sou ontmoet, het Henk ‘n motorfiets met die woorde “Jesus is King” op die nommerplaat opgemerk.
By ‘n vulstasie het hy met die be- stuurder gesels, wat vertel het hoe hy in 2002 van verslawing bevry is en sedertdien evangelisasiewerk doen.
Voor hul vertrek moes die span ook die nodige permitte bekom om die grens oor te steek, insluitend ‘n motiveringsbrief oor hul besoek, iets waarmee Veith hulle bygestaan het. By hul eerste grenspos by Stockpoort het polisiebeamptes ná die lees van die brief hul eerste twee Bybels ontvang.
Die uitreikspan het deur Botswana gereis en Bybels by skole, kerke, kampeerterreine en vulstasies versprei. Hulle was meestal op die pad en het selde langer as twee aande op een plek oorgebly.
By Maun het hulle ‘n man ontmoet wat voor ‘n plaaslike Spar kitaar gespeel en gesing het. Ná ‘n gesprek het hulle uitgevind dat hy weekliks ‘n Bybelstu- diegroep van 29 mense lei, maar sonder Bybels. Die span kon vir hom genoeg Bybels vir sy groep voorsien.
In Francistown het die span ‘n skool besoek waar Henk gepreek het. Hy vertel hy was verstom oor die kinders se uitgebreide Bybelkennis, selfs oor ingewikkelde vrae oor Bybelboeke, skrywers en verse. “Hulle kennis het ons verbaas, maar hulle het nie Bybels gehad nie. Dit was ‘n groot voorreg om dit vir hulle te kon gee,” het hy gesê.
Net buite die Caprivi-strook het hulle vir Barbie Ackerman ontmoet, wat grond van ‘n stamhoof ontvang het en dit ge- bruik om eenvoudige kerke op te rig. Kort voor die span se aankoms het sy vensters as skenking van ‘n Duitse toergroep ontvang, en die span kon haar van Bybels voorsien om haar evangelisasie- werk voort te sit.
“Ons was bevoorreg om God se Woord te kon versprei en so naby aan Sy skepping te wees,” sê Annelie.
Sy vertel ook hoe die span by Linyati saam met ‘n gids ‘n bootrit op die rivier onderneem en wild gesien het, wat hulle weer bewus gemaak het van die grootheid van God en hul roeping om ‘n verskil te maak.







