Die geliefde Wilhelmina Katarina Barnard, ’n inwoner van Velddrif en bekend as Monica, se lewe is Maandag 23 Augustus 2021 kortgeknip nadat sy vroeër deur ’n motor in Velddrif omgery is.

Haar dogter Amilia Grobler sê haar ma was ’n ikoon en bekend in haar dorp. “My moeder was gelief in Velddrif; sy het soveel gegee, maar nooit gevra nie.”

Volgens Grobler het haar ma altyd wyse woorde gehad en het sy haar altyd herinner dat ’n mens arm kan wees, maar jy moet skoon wees en “as jy kan lieg, kan jy steel, as jy kan steel, kan jy moord pleeg, so moenie lieg nie”.

“My ma was ’n dame, jy kon haar altyd deur ’n ring trek, en sy was baie netjies in haar huis. Sy was baie lief vir tuinmaak en het oral waar sy gestap het steggies gepluk. Sy het groenvingers gehad; haar tuin was altyd so mooi.”

Grobler sê al vier haar kinders was baie lief vir haar. Hoewel sy in Pretoria gewoon het sy en Barnard gereeld telefonies gesels. “Wat ek die meeste mis as ons gesels het, is wanneer sy ’n storie begin het met die woorde ‘wag, ek wil jou gou eers vertel’.”

Barnard laat haar man, vier kinders, vier kleinkinders en twee agterkleinkinders agter.

“Rus sag, Moeder, ons mis jou oneindig baie.”. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die plaaslike polisie, sê ’n saak van strafbare manslag word deur Laaiplek-speurders ná Barnard se dood ondersoek.

Bloedtoetsuitslae word afgewag alvorens die saakdossier na die hof vir beslissing verwys sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article