Die SANParke Ereveldwagters se Weskus-streek het in November 2025 sy 25ste bestaansjaar gevier en bly ‘n belangrike vennoot in die bewaring en ontwikkeling van die Weskus Nasionale Park.
Die Weskus-tak is in November 2000 gestig en het aanvanklik uit ‘n klein groepie entoesiaste bestaan wat betrokke geraak het by projekte in die Park. Vroeë inisiatiewe het voëlkyk-naweke, toerustingskenkings en die bekende Pelican Watch-projek ingesluit, wat broeiplekke op Jutten- en Malgaseiland beskerm.
Die vrywilligers het ook die eerste marathon deur die park geïnisieer. Die Weskus-marathon het sedertdien gegroei tot ‘n groot sportgeleentheid wat jaarliks duisende deelnemers lok.
Tans is die streek betrokke by die instandhouding van voëlskuilings, stap- en fietsroetes en werk op Jutten- en Malgaseiland. Benewens hul werk in die Weskus Nasionale Park verrig lede ook diens in ander parke, waaronder die Nasionale Kuger-wildtuin.
Die SANParke Ereveldwagters het in 2025 nasionaal hul 60ste bestaansjaar gevier, en bestaan uit 31 streke in 20 nasionale parke, met sowat 2 600 lede wat gedurende die 2024-’25-boekjaar ongeveer 420 000 vrywillige ure gelewer het.
Die ereveldwagters van SANParke is die amptelike vrywilligersorganisasie wat SANParke ondersteun. Hulle speel al dekades lank ‘n belangrike rol in natuurbewaring en omgewingsprojekte oor Suid-Afrika heen. Die geregistreerde nie-winsgewende organisasie funksioneer ingevolge ‘n samewerkingsooreenkoms met SANParke, en lede dra by deur geld in te samel, bewusmaking te skep en hul tyd en vaardighede beskikbaar te stel.





