ELANDSBAAI – Inwoners word gewaarsku om asseblief nie van die kreef en ander skulpdiere wat sedert 03:00 gisteroggend uit die see spoel, te gaan oes nie. Die gebied is gesluit weens rooigety-besoedeling.
Volgens kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder van die Weskus-polisie, is daar buiten die gesondheidsrisiko wat dit inhou, ook die kwessie dat iemand wat met kreef buite seisoen en sonder ’n permit betrap word, hulle skuldig maak aan ’n oortreding.

“Of dit nou ’n heel of ’n stuk van ’n kreef is, die aanklag bly dieselfde.” Die boetes beloop R500 per kreef. Sy het benadruk dat ’n verdere klagte verband hou met die feit dat die kreef ondermaat kan wees.
Hiermee saam is daar sedert Woensdag 25 Februarie verhoogde polisie- en wetstoepassingsteenwoordigheid in die gebied. Verskeie padblokkades word ook gehou.
Moontlike strafregtelike aanklagte kan insluit:
- Die onwettige oes van skulpvis en kreef.
- Die onwettige besit van kreef wat buite seisoen geoes is.
- Die onwettige besit van kreef wat in ’n geslote gebied (rooigety-sone) geoes is.
- Die oortreding van omgewingsbewaringswette.
- Die onwettige verkoop of verspreiding van skulpvis of kreef wat besmet is met rooigety-gifstowwe.
- Oortredings ingevolge visserye- en mariene hulpbronwetgewing.
“Asseblief, moenie jouself so ’n groot boete op die hals haal vir ’n klein kreefstertjie nie,” het Helfrich afgesluit.
Die verkoop of verspreiding van skulpvis wat besmet is met rooigety-gifstowwe hou ‘n gevaar in vir openbare gesondheid.





You must be logged in to post a comment.