Inwoners word gemaan om dronkbestuur te vermy om ongelukke soos dié te verhoed.

‘n Lid van die Suid-Afrikaanse Vloot in Saldanha het verlede Maandag (26 Januarie) glo beheer oor sy voertuig by die Jacobsbaai-kruising verloor en verongeluk.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ‘n distrikswoordvoerder vir die Weskus polisie, het die ongeluk waarin Nceba Taho (40) dood is, omstreeks 02:10 gebeur.

“Hy is op slag dood toe hy vermoedelik beheer oor sy voertuig verloor het.”

Dié berugte kruising is waar die pad tussen Vredenburg en Saldanha die pad tussen Jacobsbaai en Hopefield kruis. Talle mense is al deur die jare daar dood.

Die Saldanha-polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag.

Buiten dié voorval het die verkeersdienste van die Saldanhabaai-munisipaliteit ‘n besige maandeinde-naweek beleef.

Volgens Ethne Lawrence, ‘n woordvoerder vir die SBM, is ‘n string enkel- voertuigongelukke tussen Sondag 1 Februarie om 21:00 en Maandag 2 Februarie om 01:30 aangemeld.

Munisipale beamptes het die Taho-ongelukstoneel omstreeks 05:30 opgeklaar.

Volgens Lawrence is drie individue oor die naweek vir dronkbestuur in hegtenis geneem. Sy het benadruk dat al die verdagtes wat in hegtenis geneem is, se asemtoetslesings die wettige beperking aansienlik oorskryf het.

“Drink en bestuur is ‘n ernstige en voorkombare oortreding wat lewens in gevaar stel. Motoriste word daaraan herinner dat die keuse om te bestuur terwyl hulle onder die invloed is, ernstige regsgevolge inhou en onomkeerbare skade kan veroorsaak.”

Lawrence het bygevoeg die SBM dring daarop aan dat inwoners verantwoordelike besluite neem deur ‘n nugter bestuurder te reël of alternatiewe vervoer te gebruik om hul eie veiligheid en dié van ander op die pad te verseker.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article