Brandweerdienste op die toneel in Barberstraat, Diazville.

Die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) het aantygings uit die gemeenskap van Paternoster ontken dat die brandweer nalatig was met die blus van drie woonplekke wat verlede week in Kompasstraat afgebrand het.

Drie afsonderlike brande het verlede week die lewe van vyf gesinne in Diazville, Paternoster en Vredenburg heeltemal omvergegooi.

Die gesin in Esperia, Vredenburg, het met net die klere aan hul lyf uit die vlamme ontsnap.

Die brand by die huis in Barberstraat, Diazville, het Woensdag 28 Januarie omstreeks 14:00 uitgebreek. Volgens die 32-jarige eienaar, wat nie sy naam genoem wil hê nie, het hy dié huis met sy bejaarde ma gedeel. Hy was by die werk toe hy die rook in die verte sien bol. Aanvanklik het hy gedink dit is naby aan sy huis, maar met sy aankoms het hy besef dit is sy huis wat brand.

“Ek het dadelik opgehardloop en ‘n bietjie van ‘n paniekaanval gekry en gesukkel om asem te haal. Dis jou hele lewe in vlamme. Ons het alles verloor en alles het so vinnig gebeur. Ek is nou nog in skok,” vertel die eienaar. Hy is wel dankbaar dat niemand in die huis was tydens die brand nie. “Dit is die enigste positiewe ding. Ons vat dit maar stap vir stap. Ek is regtig beïndruk met die munisipaliteit, rampbestuur, brandweer en polisie met die hulp wat hulle aangebied het.”

Monique van der Westhuizen (38) van Kompasstraat, Paternoster, het aan Weslander vertel sy het Woensdag 28 Januarie haar dogter hoor skee, en toe sy uitkom, die vlamme gesien. Die brand het omstreeks 21:00 begin en drie woonplekke is deur die brand verwoes. “Ons het alles verloor.”

Die gemeenskap het gehelp, maar kon nie veel aan die vlamme doen nie – juis omdat die wind so sterk gewaai het.

“Wat ek wel kan sê, is dat die brandweer baie lank geneem het om te kom.”

Die Paternoster-gemeenskap het wel bekommernisse oor hoe die brandweer die brand hanteer het.

Volgens Ethne Lawrence, ‘n woordvoerder vir die Saldanhabaai-munisipaliteit, het brandweer voldoende watervoorraad gehad om die brand te bestry.

“Ons spanne is voorbereid en professioneel opgelei. Ons het egter uitdagings met skarebeheer ondervind toe ons by die adres aankom.

“Beamptes van die wetstoepassingseenheid en die polisie moes met skarebeheer help om te verseker dat ons op die toneel kon kom om toegang tot die brand te verkry en die vlamme te beheer.”

Rachelle Samuels (74) wat langs Van der Westhuizen woon, se huis het ook afgebrand. Sy is dankbaar niemand het iets oorgekom nie. “Ek is bly ek was nog wakker – ek was besig om te lees. Ek het die geskree gehoor en toe ek uitkyk, het ek net vlamme gesien. Ek sê net dankie vir die Here dat ek niks oorgekom het nie.”

Lawrence voeg by dat die oorsaak van al drie brande steeds ondersoek word.

Rachelle Samuels op die toneel waar sy alles verloor het. Foto: Noluvu Ludidi

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article