Die speke het die afgelope naweek behoorlik in Velddrif gesing met die aanbieding van provinsiale pad- en tyd-fietsrenne.
Fietsryers het Saterdag en Sondag na die Bergrivier-dorp opgeruk om aan verskeie fietsrenne deel te neem.
Deelnemers van ses jaar en ouer het onder meer die pad in Hopefield en Piketberg aangedurf as deel van die 169 km-, 114 km-, 87 km-ren, 57 km-ren, 40 km-ren, die 30 km- of die 20 km-renne.
Volgens Jan Faro, voorsitter van Weskus-fietsry, was die naweek se geleentheid gewis ’n sukses. “Dit was die heel eerste keer dat die Weskus ’n provinsiale kompetisie aangebied het en ons het gewys dit kan gedoen word. Die Weskus het die potensiaal om uiteindelik ’n fietsry-bestemming van wêreldgehalte te word,” meen Faro.
Hy verduidelik hoewel die plaaslike juniors nie almal met medaljes weggery het nie, was dit waardevol om skouers te skuur met van die Wes-Kaap se top- fietsryers.
“Dit was van die top-kampioene wat die afgelope naweek deelgeneem het – ryers wat op wêreldvlak kompeteer – en die Weskussers het kans gehad om teen hulle mee te ding.” Hy meen die naweek se kampioenskap was nie net ’n hupstoot vir die fietsry-gemeenskap nie, maar die gemeenskap as geheel. Faro meen dit het besoekers gewys hoe goed al die rolspelers, wat munisipaliteite, verkeersdepartemente en plaaslike sakelui insluit, kan saam werk.
’n Paar plaaslike ryers het ook behoorlik naam gemaak. Onder die Weskussers wat op die podium geëindig het, was Francois Hofmeyr (o.23), wat vir die span Madmax gery het, en Reitz Hofmeyr (junior o.19) wat vir die span Kinetic Pro gery het.
Dié Langebaners was eerste en tweede in hul onderskeie renne. Francois was tweede in die 169 km-roete en Reitz was die kampioen van die 114 km-wedren in hul onderskeie kategorieë.
Francois het in 2022 ook vir Kinetic Pro gery. Hy was een van twee o.19-fietsryers wat Suid-Afrika by die Afrika-kampioenskap in Kaïro en die wêreld- kompetisie in Australië verteenwoordig het. Hy en sy spanmaat Jaco Venter, wat voorheen in die Tour de France gery het, was ook eerste in die Elite-afdeling.
Reitz het eerste plek in Saterdag se tydrit behaal.





