Depressie tydens swangerskap: Daar is altyd hulp. Foto: Genereer

Swangerskap word dikwels as ’n tyd van vreugde en afwagting beskryf, maar vir baie vroue is dit ’n emosioneel uitdagende tyd wat gepaard gaan met angs, hartseer en depressie, dikwels onsigbaar vir die buitewêreld.

Tydens Nasionale Swangerskapweek (3–7 Februarie) waarsku die Suid-Afrikaanse Vereniging van Psigiaters (SASOP) dat depressie en angs tydens swangerskap nie ligtelik opgeneem moet word nie. Volgens SASOP ervaar tussen 16% en 50% van swanger vroue in Suid-Afrika depressie of angs, met tot een uit elke tien wat ’n hoë selfmoordrisiko het.

“Geestesongesteldheid tydens swangerskap is werklik, algemeen en behandelbaar,” sê dr Jessica Stanbridge, psigiater en SASOP-lid.
“Wanneer simptome geïgnoreer word of medikasie sonder mediese advies gestaak word, kan dit beide die moeder en die baba in gevaar stel.”

Onbehandelde depressie tydens swangerskap het nie net ’n invloed op hoe ’n vrou voel nie, maar ook op hoe haar liggaam funksioneer en hoe sy vir haarself en haar baba kan sorg. Dit kan lei tot voortydige geboorte, lae geboortegewig, swak baba-ontwikkeling, probleme met binding ná geboorte, ernstige nageboortelike depressie en in seldsame gevalle selfs skade aan of die dood van die baba. Die beraamde lewenslange koste van onbehandelde moederlike depressie en angs in Suid-Afrika beloop sowat R42 miljard.

’n Plaaslike mamma, wat anoniem wil bly, beskryf depressie tydens swangerskap as ’n stil siekte.

“Depressie kom stil in jou lewe in,” vertel sy. “Dit breek jou siel stil af. Dit fluister dat jy nie goed genoeg is nie, dat jy nie kan cope nie en dat jy nie die voorreg van mamma-wees waardig is nie. Dit laat jou glo jou liggaam sal nooit weer dieselfde wees nie en dat jou maat jou anders sal sien.”

Hoewel haar swangerskap beplan was, was dit allesbehalwe maklik. Sy is drie keer tydens haar swangerskap in die hospitaal opgeneem weens longontsteking, blaas- en nierinfeksies en later hoë bloeddruk.

“Ek het myself nog altyd as ’n sterk vrou gesien,” sê sy. “Maar die fisiese siekte, die onsekerheid oor ouerskap en die emosionele alleenheid het my ingehaal. Ek het alleen in my kamer gehuil en voorgegee alles gaan goed.”

In haar tweede trimester het sy tydens ’n ginekoloogbesoek ’n emosionele ineenstorting gehad en is met prenatale depressie gediagnoseer. Alhoewel medikasie en sielkundige ondersteuning aanbeveel is, het sy dit aanvanklik geweier.

“Ek was skaam en hardkoppig,” erken sy. “As ek terugkyk, besef ek hoeveel hulp ek geweier het.”

Ná die geboorte van haar seuntjie het die depressie voortgeduur en haar angs vererger.

“Depressie het my laat glo ek gaan iets verkeerd doen en my kind seermaak. Daar was dae wat ek hom laat huil het terwyl ek my kop in ’n kussing gedruk en geskree het omdat ek net nie meer kon nie.”

Dit was eers toe haar man ingegryp het, ’n afspraak by ’n sielkundige gereël het en familie ondersteuning gebied het, dat sy begin herstel het.

Volgens dr Stanbridge is baie vroue bekommerd oor die gebruik van antidepressante tydens swangerskap, maar huidige navorsing toon dat die meeste antidepressante, insluitend SSRI’s, oor die algemeen veilig is wanneer dit versigtig voorgeskryf en gemonitor word.

“Die risiko’s van medikasie moet altyd opgeweeg word teen die baie werklike gevare van onbehandelde depressie,” sê sy.

Vroue word aangemoedig om hulp te soek indien hulle aanhoudende hartseer, intense angs, uiterste moegheid, slaapprobleme of gedagtes van selfbesering ervaar.

“Medikasie is nie ’n mislukking nie,” beklemtoon dr Stanbridge. “Dit is dikwels een van die hulpmiddels wat ’n ma help om gesond te bly en haar baba veilig te hou.”

Die mamma se boodskap aan ander vroue is eenvoudig: “Luister na jou dokter. Depressie is stil, maar dit is nie onsigbaar vir hulp nie. Jy is nie alleen nie.”

Vroue wat emosionele nood ervaar, kan ondersteuning kry by die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (SADAG) deur hul 24-uur hulplyne te skakel by 0800 567 567 of 0800 456 789, of SMS 31393.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article