Die departement van water en sanitasie (DWS) het Vrydag 1 Augustus vier van die Clanwilliamdam se sluise oopgemaak om die damvlakke tydelik van 95% tot 75% te verlaag.
Volgens Marcia Maraka, die DWS se hoofdirekteur vir konstruksie, is sowat 100 kubieke meter per sekonde is vrygelaat.

Dié verlaging van die damvlak sal na verwagting op Woensdag 6 Augustus voltooi wees, tensy daar aansienlike reën is wat sal noodsaak dat die sluise gesluit moet word totdat die reënval weer bedaar.
Volgens Marcia Maraka, die DWS se hoofdirekteur vir konstruksie, is die besluit om die damvlak te verlaag nodig om die konstruksie aan die kofferwal moontlik te maak. Dit behels die oprigting van ‘n 56 meter hoë inlaattoring stroomop van die damwal.
“Die Inlaattoring is ‘n kritieke komponent van die konstruksieprojek wat 18 maande se uitgrawingswerk, 20 maande se toringkonstruksie behels. Gegewe hierdie uitgebreide tydlyn, is dit van kardinale belang om te verseker dat die werk ononderbroke voortduur en met minimale afhanklikheid van seisoenale swaar reënval. Hierdie werk is noodsaaklik vir die suksesvolle en tydige voltooiing van die algehele projek,” het Maraka gesê.
Die tydelike verlaging van die dam is ‘n beplande en strategiese ingryping wat ontwerp is om verdere konstruksievertragings en die gevolge daarvan stroomaf te voorkom.
Van besondere kommer is die impak op watergebruikers: terwyl gebruikers geregtig is op ‘n jaarlikse onttrekkingstoewysing van 12 200 m³ per hektaar, ontvang hulle tans slegs 6 000 m³/ha/jaar weens kapasiteitsbeperkings. “Daarom is dit noodsaaklik dat die projek versnel word om tydige voltooiing te verseker en dat gebruikers kan terugkeer na hul lisensietoewysings,” het Maraka verder gesê.
Om die projek se kontinuïteit te handhaaf, moet die kofferdamwal binne ‘n maand met ‘n bykomende 2.7 meter van die huidige 102.7 tot 105.4 meter verhoog word.
Hierdie kritieke operasie sluit ook die ontwatering van die werkarea in om veilige en doeltreffende betonplasing onder droë toestande te verseker.
Die departement onderneem om die oefening te monitor en wil alle gemeenskappe en belanghebbendes stroomaf gerusstel dat die watervoorsiening gedurende hierdie fase versigtig bestuur sal word.
DWS beklemtoon verder dat alle voorsorgmaatreëls getref word om die verlaging veilig uit te voer, met minimale ontwrigting vir gebruikers.






You must be logged in to post a comment.