LANGEBAAN – Die gemeenskap van Seaview Park is in rou en ongeloof gedompel ná die skokkende ontdekking van die liggaam van Cheryl Lombard (54) in haar huis vroeër vandeesweek.
Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-distrikspolisie, is Lombard se liggaam op Vrydag 7 November gevind. Die polisie vermoed egter dat sy reeds vroeër in die week vermoor is. ‘n 22-jarige verdagte is in hegtenis geneem op aanklag van moord, en die saak word ondersoek.

Die tragiese voorval het diep spore in die gemeenskap gelaat. McShane Lewis, ‘n bekende inwoner van Langebaan en aktivis teen geslagsgebaseerde geweld, het haar ontsteltenis uitgespreek oor die “sinnelose moord” wat die dorp geruk het.
“Sy is wreed van haar geliefdes weggeneem deur iemand wat veronderstel was om ‘n bron van liefde en beskerming te wees,” het Lewis gesê. “Ons harte is by die familie, vriende en die gemeenskap wat agterbly om die stukke van hierdie verwoestende tragedie op te tel.”
Lewis het ook ‘n dringende beroep gedoen op jongmense om weg te bly van geweld en dwelmmisbruik.

“Aan die jong mans en vroue wat in die versoeking kom om hulle tot geweld en dwelmmisbruik te wend, vra ons: Watter nalatenskap wil julle agterlaat? Sal julle onthou word as ‘n vernietiger van gesinne, of ‘n bewaarder van vrede en geregtigheid?”
Sy het verder voorgestel dat ‘n massa-optog vir vrede en veiligheid in Langebaan gereël word om eenheid te bevorder en ‘n standpunt teen misdaad in te neem.
“Ons doen ‘n beroep op elke liggaamlik gesonde man, vrou en jeug om kragte saam te snoer en ons strate terug te neem uit die greep van misdaad en dwelmmisbruik. Genoeg is genoeg.”Die polisie het intussen bevestig dat die ondersoek voortduur en dat die verdagte binnekort in die hof sal verskyn.
Die gemeenskap bly verenig in hul rou en hoop dat geregtigheid vir Cheryl Lombard se dood sal seëvier.





You must be logged in to post a comment.