Ontstoke en bekommerde inwoners, boere en omgewingsaktiviste beweer die afvalterrein grens aan onverantwoordelike munisipale bestuur en strafbare verwaarlosing, en volgens hulle is dit nie net skadelik vir mens en dier nie, maar dit bedreig ook die omliggende natuurlewe en selfs die nabygeleë en wêreldbekende bewaringsgebied – die dorp se geliefde Verlorenvlei.
Volgens ‘n boer, wie se huis sowat ‘n kilometer van die “bron van kwaad” geleë is, versmoor hulle van die rook as dit brand. Sommige inwoners sê hulle het nou genoeg gehad van jare lange wanbestuur, plastiek wat verbrand word en giftige rook wat hul lewe versuur en hul gesondheid bedreig.
Weslander het die dorp besoek om uit te vind waaroor dié beswaardes kla. En hulle het gewis goeie rede om bekommerd te wees. Elandsbaai se omstrede munisipale stortingsterrein, vlak buite die dorp is inderdaad ‘n skokkende oogseer en in ‘n haglike toestand.
Geen toegangsbeheer en geen munisipale toesig was te bespeur toe Weslander die terrein op 3 Desember besoek het nie. Slegs geroeste heinings wat omtuimel weens vullisdruk en geen toegangshek is die toneel wat ‘n besoeker begroet.
‘Algehele gemors’
Die swart-gebrande terrein lê besaai met tuinvullis, sakke huishoudelike vullis, bourommel, plastiekhouers, glasbottels en selfs ‘n wit bad.
Ván die vullis het nog gesmeul nadat dit blykbaar die vorige aand die soveelste keer die afgelope paar weke aan die brand gesteek is. Wanneer vullis brand en die berugte Weskuswind waai, is dit mens en dier wat die swart rook moet verduur.
Fred van Zyl, ‘n boer wat naby die stortingsterrein woon, beskryf dit as ‘n “algehele gemors”.
“Plastieksakke waai die hele wêreld vol en wanneer hulle dit aan die brand steek, kan ons dit nie uithou nie. Dan versmoor ons van die rook. Dit brand net snags. Ek het geen idee wie dit doen nie. Jy kan mos nie plastiek verbrand nie. Dit is sleg vir ons gesondheid.
“Kla help ook nie. Hulle steur hulle nie aan ons klagtes nie. Die munisipaliteit moet voor stok gekry word.”
Foto’s wat deur Felicity Strange van die Friends of Verlorenvlei-aksiegroep aan Weslander gestuur is, toon dat vullisverbranding op die stortingsterrein al sedert 2012 plaasvind.
“Hoekom word dié gebrek aan bestuur en beheer van die Elandsbaai-stortingsterrein toegelaat?
“As dit ‘n strafregtelike oortreding is om ‘n munisipale stortingsterrein aan die brand te steek en die oortreders is bekend, hoekom word niemand in hegtenis geneem nie?” vra Strange.
Weslander het die Cederberg-munisipaliteit in Clanwilliam vir kommentaar genader. Volgens Riaan de Ridder, die tegniese direkteur van die munisipaliteit, word probleme en historiese uitdagings met Elandsbaai se stortingsterrein tans opgelos.
Geniet voorkeur
De Ridder het namens Cederberg verskoning gevra vir enige ongerief wat deur die brande en rook veroorsaak is. Hy sê dit geniet altyd hoë prioriteit by die munisipaliteit wanneer sulke voorvalle plaasvind.
Cederberg wys vinger na plaaslike inwoners wat die stortingsterrein onwettig betree en die brande veroorsaak.
“Dit is misdadige bedrywighede en ons verwelkom enige inligting wat kan lei tot die identifikasie en vervolging van diegene wat by sulke aktiwiteite betrokke is. Relevante inligting kan aan die munisipaliteit of die polisie voorsien word.
“Wanneer ‘n brand onder ons aandag gebring word, word aksie geneem om dit te blus.”
Volgens De Ridder is Cederberg besig met bedryfsplanne om afval op ‘n nuwe streekterrein in Matzikama te stort en met die rehabilitasie van plaaslike stortingsterreine te begin.
“Die betrokke departement het finansiering gevra vir die vervanging van die heining, wat onwettige toegang tot die terrein sal voorkom.”
Die plaaslike regering beplan ook oop vullishouers (skips) langs die munisipale pompstasie by die stortingsterrein se ingang en, indien geld beskikbaar is, ‘n formele vullis-aflaaigerief binne die volgende twee jaar.




