Die afgelope Saterdag (14 Februarie) het die Sanlam Boland-vrouerugbyspan in hul eerste kragmeting van die 2026-seisoen in die Pick n Pay Women’s Super Liga 1 teen die Vrystaat-vrouerugbyspan op Boland Stadion in Wellington gespeel.
Die tuisspan het van die afskop af oorheers en hul krag getoon toe hulle die wedststryd met 36-5 wen en het gewys dat hulle gereed vir die nuwe seisoen is.
Voor die afskop het Weslander Sport met Tereska Kabuika gesels oor haar insluiting in die Sanlam Boland-vrouespan.
“Dit is ‘n ongelooflike gevoel en ek is dankbaar en trots vir die geleentheid. Al die ure se oefen, harde werk en opofferings het in daardie oomblik die moeite werd gevoel. Dit is ‘n groot eer om deel te wees van die Sanlam Boland Dames, en ek sien uit daarna om my beste te gee,” het sy gesê.
Kabuika het beklemtoon dat sy nie net haar eie drome dra nie, maar ook dié van die Mamre-vrouerugbyspan en die gemeenskap van Atlantis en Mamre.
“Hulle geloof en aanmoediging het my tot hier gebring. Ek hoop my prestasie kan ander jong meisies inspireer om groot te droom en te glo dat alles moontlik is met werk en deursettingsvermoë. Hierdie geleentheid is nie net vir my nie, dis vir almal wat saam met my hierdie pad stap.”
Met haar jeug bly sy gefokus op groei en verbetering.
“My droom is om goed te vaar en op ‘n hoë vlak te speel en trots te wees op elke span wat ek verteenwoordig. My leuse is eenvoudig, bly nederig, werk hard en moenie ophou glo in jouself nie, selfs wanneer die pad moeilik raak.
“Om ingesluit te word in die Sanlam Boland Dames se senior span terwyl ek nog ‘n junior is, is ‘n seën wat ek nie ligtelik opneem nie. Ek is dankbaar vir die vertroue wat in my gestel is, die geleentheid om te groei, en die kans om te leer. Hierdie is die begin – ek is gereed vir alles wat kom.”
Sanlam boland Dames se eerste drie vir 2026 is deur Arthea King in die 12de minuut gedruk, maar Zintle Nonkosana (kaptein) kon nie met die doelskop slag nie. Kabuika se kans het in die 20ste minuut gekom toe die bal na ‘n goeie agterlynbeweging wyd gespeel is en sy in die regterkantse hoek afgerond het. Nonkosana se doelskoppoging was weer mis.
Chloe Adams het in die 25ste mi- nuut haar droomdebuut met ‘n drie begin. Ook Tagarira kon nie die doelskop oorskop nie en die telling het tot 15-0 gespring.
Vrystaat het in die 28ste minuut sy eerste en enigste drie behaal toe Sikholiwe Mletetshe gaan druk het. Anelca Hess se doelskop was mis.
Felicia Jacobs het in die 35ste minuut Boland-vroue se vierde en bonuspuntdrie gaan druk wat suksesvol deur Nonkosana verdoel is en die telbord met rustyd tot 22-5 verander het.
In die tweede helfte het die Boland-vroue die tempo gelig en na slimspel het Buhle Somanzi in die 50ste minuut afgerond, met Nonkosana suksesvol met die doelskop in 52ste minuut.
Tagarira het haar tweekuns in die 73ste minuut behaal en weer eens was Nonkosana in die kol met die doelskop, wat die telling tot 36-5 geneem het, om Sanlam Boland-vrouespan hul eerste oorwinning van die 2026-seisoen te besorg. Dié oorwinning en die debuut van drie jong spelers het weer eens die krag en nuwe talent in die streek gewys.
Ander uitslae:
DHL Westelike Provinsie 51-19 Sharks Women; Border Ladies 0-100 Bulls Daisies; Golden Lions 12-32 EP Queens; Sanlam Boland Dames 36-5 Vrystaat.
Plaaslike wedstrydbepalings vir Saterdag 21 Februarie
DHL Westelike Provinsie t. Golden Lions Women (13:00, Bellville-Suid), Sanlam Boland Dames t. Border Ladies (15:00, Boland Stadion, Wellington).





