Skerp oë, ore wat fyn luister en met ’n nat snoet sal Fluffy seker maak inwoners in die Weskus bly veilig.
Die Weskus-distriksmunisipaliteit se rampbestuur- en gemeenskapsveiligheidkomponent het onlangs die nuutste lid van sy span bekend stel – Fluffy, die Dalmatiese hond.
Fluffy is sedert sy geboorte op 10 Junie reeds bedrywig.
Die munisipaliteit se nuwe veiligheidsverteenwoordiger se werk is om bewustheid oor rampbestuur, gemeenskapsveiligheid en risikovermindering te skep. Fluffy streef om seker te maak dat daar ’n risiko-vermydingskultuur in die streek gekweek word.
Fluffy het Weslander verseker hy is ’n uiters hardwerkende en liefdevolle hond met ’n liefde vir mense – veral kinders. Volgens sy spanmaats is Fluffy se oë inwoners se oë, “om na jou om te sien en jou te beskerm”.
“Sy ore is jou ore om te luister wat in jou gemeenskap gebeur. Sy neus is jou neus om die kwaaddoeners in jou gemeenskap uit te snuffel. Sy lewe is ook jou lewe,” verduidelik die span.
Fluffy het sy eerste openbare verskyning by ’n straatsport-geleentheid gemaak wat in Moorreesburg gehou is. Die vriendelike hond het die skare met sy danspassies vermaak terwyl hy ook bewustheid oor verskeie risiko’s in gemeenskappe geskep het.
Nooi gerus vir Fluffy na jou gemeenskapsprojekte deur 022 433 8701 te skakel of ’n e-pos te stuur na westcoastdmc@wcdm.co.za





