Wanneer Desember aanbreek en almal het hul vakansie beplan, ontstaan daar vir baie troeteldiereienaars elke jaar dieselfde vraag: Wie kyk na my dier as ek nie by die huis is nie?
Dit klink eenvoudig, maar die somerhitte, vuurwerke, meer besoekers en algemene feesaktiwiteit kan vir jou troeteldier baie spanning meebring.
Gelukkig is daar verskeie maniere om seker te maak jou hond of kat is veilig, gemaklik en nie eensaam nie.
Reël betyds, want in die vakansietyd word oppassers gou volbespreek, en selfs ‘n vriendelike buurman se dae kan vinnig opgevul raak. As jy langer as net ‘n naweek weggaan, maak tyd om iemand te kies wat jy vertrou en wat gemaklik is met jou dier. Dit hoef nie ‘n professionele oppasser te wees nie. ‘n Betroubare vriendin, familielid of buurvrou kan net so goed wees.
Laat hulle vooraf een of twee keer kom kuier sodat jou dier hul stem, reuk en teenwoordigheid leer ken.
Hoe meer bekend so iemand is, hoe rustiger sal jou dier wees wanneer jy weg is.
Jou oppasser het duidelike instruksies nodig, veral in warm weer. Skryf vir hulle neer hoeveel keer per dag jou dier gevoer moet word en hoeveel water hy drink.
Verduidelik watter kamers of dele van die erf gesluit moet bly en watter medikasie gegee moet word. Laat hulle weet wat jou dier se gewoontes is, soos wanneer hy gewoonlik slaap, wat sy gunsteling-speelgoed is en wat hom ontstel.
Selfs klein detail help, want oppassers hanteer dikwels baie dinge gelyk.
Sommerhitte is ‘n groot uitdaging. Jou oppasser moet seker maak daar is altyd koel skaduwee en vars water. Honde wat buite rondloop, moet gedurende die warmste ure binnenshuis wees of in ‘n goed geventileerde skuiling kan rus. Katte moet toegang hê tot ‘n koel vertrek. Ou en siek diere raak maklik oorverhit en jou oppasser moet tekens herken soos oormatige hyg, lusteloosheid en warm ore en voete. Deur net bietjie ekstra aandag te gee, kan groot noodsituasies voorkom word.
Dit is belangrik dat die oppasser genoeg tyd by jou dier deurbring. Net vinnig kos en water neersit is nie voldoende nie. Honde het sosiale interaksie nodig. Hulle moet ‘n bietjie speeltyd hê, ‘n kort uitstappie of ander aandag. Katte het skoon sandbakke en rustige ruimtes nodig. Die oppasser moet ook kyk vir tekens van angs, depressie of siekte. Diere wat bang is vir vuurwerke raak maklik gespanne en het ekstra kalmte en bystand nodig. Gereelde besoeke en ‘n vaste roetine help dat jou dier veilig en rustig bly totdat jy terugkom.
Dit maak ‘n groot verskil as jou huis oppasser-vriendelik is. Plaas al die voorraad – kos, speelgoed, medikasie en vlooibehandeling – op een plek. Laat ‘n lys van noodnommers, insluitend jou veearts en ‘n buurman wat kan help. Maak seker die oppasser weet hoe die alarm, hek of sekuriteitskodes werk. ‘n Oppasser wat gemaklik en georganiseerd voel, kan veel beter na jou troeteldier omsien.
As jy net vir ‘n dag of twee weggaan, kan ‘n vertroude buurman ‘n goeie opsie wees. Baie troeteldiere ken hul bure se stemme en beweegpatrone, wat dit makliker maak. Maak net seker die buurman weet presies wanneer jy terugkom en watter tyd hy of sy elke dag moet kom kyk.
Wees eerlik oor jou dier se gedrag, soos ontsnapneigings of vrese. Hoe meer hulle weet, hoe veiliger is jou dier.
Sommige eienaars verkies doggie care of hondehotelle. Dit is ideaal vir honde wat baie energie het of baie van mense en ander honde hou. Hierdie plekke het opgeleide personeel en veilige ruimtes vir speel. As dit vir jou hond geskik is, besoek die plek voor die tyd en kyk hoe skoon en veilig dit is.
Vra hoe hulle hitte hanteer en maak seker jou hond se entings is op datum.
Vakansie is ‘n tyd om te ontspan, maar vir jou troeteldier kan dit vol verandering wees. Nuwe geluide, warm dae en minder aandag kan spanning veroorsaak. Met goeie beplanning en iemand wat werklik omgee, kan jy probleme soos ontsnapping en hitte-uitputting voorkom.





