VELDDRIF – Die derde Bergrivier-jazzfees, wat Saterdag 3 Oktober in Laaiplek deur Steyn Fourie in samewerking met die Bergrivier-munisipaliteit aangebied is, het ‘n reeks plaaslike en bekende kunstenaars op die verhoog gehad.
Die Idols SA-wenner van 2005, Karen Kortje, het die program geopen. Dit was haar eerste optrede by die Berg- rivier-jazzfees en haar eerste besoek aan Velddrif. Sy het die gehoor met “I’m So Ready”, wat sy tydens die finale ronde van Idols SA gesing het, aan die beweeg gekry.
Mario Arnolds het daarna met sy saksofoonspel opgetree, gevolg deur Granville Michaels, wat bekende treffers uit onder meer die musiek van Peabo Bryson en Bill Withers gesing het.
Die stemming het verder opgevlam met Afrikaanse liedjies soos “Baby Chocolates”, “Kaptein” en “Ruiter van die Windjie”, waarna feesgangers nader aan die verhoog beweeg het om saam te sing.
Fourie het ook opgetree en sy blues-jazz-kitaarspel met die gehoor gedeel.
Hy het gesê Velddrif is reeds groot planne vir volgende jaar se fees, wat volgens hom nog groter sal wees.
Fourie het die Bergrivier-munisipaliteit vir sy ondersteuning bedank.
Raadslid Johan Moolman het namens die munisipaliteit gesê die fees lewer ‘n bydrae tot die plaaslike ekonomie.

Hy het Fourie en sy span bedank vir hul werk om die fees moontlik te maak.
Vredenburg se Regina-Lee Thompson het daarna opgetree, gevolg deur Richard Ceasor.

Emo Adams en sy orkes, met Sean D ook op die verhoog, was die hoogtepunt vir talle feesgangers. Adams het die gehoor met musiek en humor op hul voete gehad. Uncle Cal het die aand met dansmusiek afgesluit.
Die Zeesicht-restaurant, wat verblyf vir die kunstenaars geborg het, het die volgende oggend (Sondag 4 Oktober) met ‘n ontbytvertoning voortgesit.
LEES OOK: Weskus-kuierkonsert




