PIKETBERG – Bergrivier-munisipaliteit (BM) se Brand- en Reddingsdienste is nou beter toegerus om noodgevalle waarby gevaarlike stowwe betrokke is, te hanteer.
’n Nuwe HAZMAT-sleepwa (gevaarlike materiaal) en gespesialiseerde toerusting is Vrydag 21 Augustus amptelik aan die munisipaliteit oorhandig. Die oorhandiging het by die Piketberg Munisipale Biblioteek plaasgevind.
Die toerusting is bekom nadat R550 000 gedurende die 2025/2026-boekjaar deur die Wes-Kaapse Departement van Plaaslike Regering se Munisipale Brandweerdienste-kapasiteitsbou-toekenning aan BM beskikbaar gestel is. Die munisipaliteit het ook ’n bykomende finansiële bydrae gelewer.

Die toerusting sluit vier vlak A-gasdigte reddingspakke, twee oorgroot dromme vir die veilige insluiting en isolering van giftige afval, asook gespesialiseerde gasopsporingstoerusting in.
Die gasopsporingstoerusting stel brandbestryders in staat om moontlik gevaarlike atmosferiese toestande tydens noodsituasies te identifiseer en ingeligte besluite te neem.
Noel Williams, hoof van rampbestuur by BM, het die belegging verwelkom.
“Belegging in ons Brand- en Reddingsdienste gaan nie net oor die verkryging van gespesialiseerde toerusting nie, maar ook oor belegging in die vaardighede en ontwikkeling van ons personeel,” het Williams gesê.
Volgens hom het die meeste van die munisipaliteit se voltydse brandbestryders reeds die nodige opleiding ontvang om die gespesialiseerde toerusting te gebruik.
“Dit versterk ons professionele en bekwame nooddiens nog verder,” het hy gesê.
Die munisipaliteit het die Wes-Kaapse Departement van Plaaslike Regering en die Provinsiale Rampbestuursentrum bedank vir hul ondersteuning.




You must be logged in to post a comment.