Dolphins van KwaZulu-Natal het Sondag 16 Maart vir Goldrush Boland op Bolandpark in die Paarl die stryd aangesê in Krieket Suid-Afrika se Eendagbeker-kompetisie.
Nadat die Dolphins die loot gewen het, het hulle besluit om eerste te boul. Hulle het Goldrush Boland uit die staanspoor onder druk geplaas.
Boland kon egter nie aan die gang kom nie en is vasgepen deur die Dolphins in die eerste vyf boulbeurte. Blayde Capell (2) en Gavin Kaplan (6) is deur Prenelan Subrayen en Keshav Maharaj met die tellings op 5/1 en 16/2 been voor paaltjie (bvp) betrap.
Na die verlies van Aviwe Mgijima (1) op 22/3 en Lehan Botha (1) op 23/4, het die gevaarligte vir Boland geflikker.
Met die toevoeging van kaptein Clyde Fortuin het hy en aanvangskolwer Grant Roelofsen begin om Boland se kolfbeurt te bou. Ongelukkig het Roelofsen Prenelan Subrayen se tweede slagoffer geword toe hy deur Hanu Viljoen op 41 van 60 balle gevang is. Boland was nou kniediep in die moeilikheid met sy telling op 73/5.
Shaun von Berg is in die 26ste boulbeurt deur Tristan Luus geboul met die telling op 90/6 en dinge het al hoe donkerder vir die Boland begin lyk.
Kaptein Fortuin, Ayabulela Gqamane, het Boland uit die woestyn gelei en 54 van 64 balle gemoker voordat Bryce Parsons van Tristan Luus se boulwerk op 142/7 in die 38ste boulbeurt gevang is.
Gqamane en die Krewe-speler Imran Manack (Vredenburg/Saldanha-krieketklub) het verder momentum aan die Boland se beurt verleen toe hulle ‘n anker- vennootskap van 96 lopies om die agtste paaltjie geboul het voordat Gqamane op 238/8 deur Andile Simelane gevang en geboul is met sy telling op 69 van 77 balle in die 49ste boulbeurt.
Manack se bydrae met ‘n onoorwonne 50* het die Boland se telling tot 247/8 geneem toe dit gelyk het of daar nie hoop vir die Boland was nie, met die telling op 90/6.
Die Dolphins het die jaagtog na 248 lopies begin met die aanvangskolwers Tshepang Dithole en Jon Jon Smuts, maar Tshepang is vir 11 lopies deur Clyde Fortuin van Glenton Stuurman se boulwerk uitgevang met die telling op 13/1.
Bryce Parsons is gevang en geboul deur Shaun von Berg vir 30 van 40 balle en drie lopies later is Jason Smith deur Siyabonga Mahima bvp vir een gevang. Met die telling op 163/4 is Khaya Zondo vir 45 van 40 balle deur Shaun von Berg van Siyabonga Mahima se boulwerk uitgevang.
Hanu Viljoen het hom op 163/4 by Smuts aangesluit in die 33ste boulbeurt. Mahima het die sleutelpaaltjie van Jon Jon Smuts geneem met die telling op 189/5. Jon Jon Smuts het 91 van 111 aangeteken en die Dolphins se kolfbeurt geanker en op koers gehou vir die eindtelling van 248. Eathan Bosch en Viljoen het daarna gemik om die nodige 55 lopies te verseker met nog 10 boulbeurte oor.
Ayabulela Gqamane het na die boulaanval teruggekeer op soek na ‘n deurbraak, maar Imran Manack het toe die sleutelpaaltjie geneem toe hy Eathan Bosch vir 20 lopies bvp op 233/6 betrap het.
Gqamane se laaste bal in die 49ste boulbeurt het egter ‘n wydloper opgelewer wat beteken het dat daar ‘n ekstra bal oor was voor die 50ste boulbeurt en Simelane wou seker maak hy kry ekstra lopies daaruit. Simelane het Gqamane se aflewering uit die veld geslaan vir ‘n ses, wat die Dolphins se lopies tot net drie verminder het van die laaste boulbeurt.
Lehan Botha, ‘n medium- bouler, het ‘n groot taak op hande gehad met die laaste boulbeurt. Sy eerste aflewering na Hanu Viljoen is reg oor die middel van die paaltjies gemoker en hy en Simelane het begin uitskiet soos 100m-atlete uit hul blokke vir die eerste lopie en omgedraai vir die tweede. Voordat die Bolandse veldwerkers hulle getref het, het die twee Dolfyne verby hulle geseil vir ‘n oorwinning van vier paaltjies.
Tellings: Boland 247/8 in 50 (Gqamane 69, Fortuin 54, Manack 50*, Luus 2/32, Subrayen 2/35).
Dolphins 248/6 na 49/1 boulbeurte (Smuts 91, Zondo 45, Viljoen 35*; Mahima 3/25).





