Die mat is Saterdagmiddag onder ‘n aandiens-polisiekonstabel van Langebaan uitgeruk toe hy op ‘n misdaadstoneel by Langebaan se nuwe rugbyveld gereageer het, min wetend dat sy jonger broer die slagoffer is.
Die 18-jarige Ryan Samuels se lewe is op Saterdag 15 Maart tragies kortgeknip toe hy by ‘n klubrugbywedstryd tussen Langebaan en St. Helenabaai by die rugbyveld in Oostewalstraat, waar hy ‘n toeskouer was, doodgesteek is.
Sy ma, Reinette Diergaardt, vertel sy het die nuus ontvang deur ‘n oproep toe sy in ‘n restaurant was net ná 17:00. In daardie stadium, sê Reinette, het sy net geweet hy is gesteek, maar nie dat hy aan sy wonde beswyk het nie. Wat nog ‘n harde slag vir die familie was, is dat Ryan se ouer broer, konst. McNeal Samuels (29), ‘n polisieman van Langebaan, aan diens was en na die toneel uitgeroep is, min wetende dat die slagoffer van die voorval sy eie broer was. “Dit was ‘n groot skok vir hom. Hy is in sy broer se arms dood,” vertel Reinette.
Soos Reinette verduidelik het Ryan besluit om die dag in Langebaan deur te bring en by sy broer te kuier. “Ek en my dogter woon in Upington. Ek het die Saterdagoggend opgestaan met verlange na my seun. Ons het oor die foon gepraat en hy het my gevra dat ek vir hom moet bid. Ek het vir hom gesê, maar jy weet ek bid altyd vir jou, maar ek gee nie om om weer vir jou te bid nie.”
Reinette meen Ryan het gevra vir gebede omdat hy na die Langebaan-rugbyveld toe gaan en dat almal nie oop is vir inkommers nie. Die laaste woorde wat sy van haar seun gehoor het was, “mammie moet onthou ek is baie lief vir mammie”.
Die werklikheid dat haar “baba” nie meer by hulle is nie is ‘n moeilike pil om te sluk. Sy meen dié twee het altyd gekommunikeer en dat dit ‘n groot seer en verlies is. Die familie voeg by dat ‘n klomp gerugte die ronde doen wat nie waar is nie. “Ryan het glad nie die man geken wat hom gesteek het nie en het niks aan hom gedoen nie. Soos daar aan my vertel is, is Ryan van agter af met die mes gesteek. Toe hy inmekaar val, het die man bo op hom geklim en hom verder gesteek. Hy het hom gesteek met die doel om hom dood te maak.”
Die jongman het groot planne gehad vir sy toekoms en was vasberade om vir sy ma ‘n groot huis te koop en vir haar te sorg.
“Ek kan nie glo dat so iets met so ‘n vrolike mens kon gebeur het nie. Ryan was baie geliefd. Al het jy ‘n slegte dag gehad, jy kon nie help om net te glimlag nadat jy met hom gepraat het nie.”
“Hy het laaste gekom, so hoekom moes hy eerste gaan?” vra sy ousus Berenique Diergaardt (35) haarself af. Berenique sê ‘n juweel is van hulle weggeruk. Sy meen mense moet sensitief wees wanneer dit kom by ander se seer.
Boland-rugbyunie het in ‘n verklaring gesê hulle is diep bedroef oor die tragiese en voortydige dood van ‘n individu in die klubrugbywedstryd.
Norman van Wyk, ‘n gemeenskapsaktivis in Witteklip waar Ryan gebly het en wat self ‘n seun weens geweldsmisdaad aan die dood afgestaan het, sê daar word oor die algemeen verwag dat alle sport en sosiale byeenkomste in die toekoms beplan moet word met gemeenskapsveiligheid as prioriteit. “Ons moet proaktief wees in die voorkoming van geweldsmisdade binne ons streek eerder as dat ons langs oop grafte moet gaan staan van ons geliefdes wat jonk en ontydig deur die dood weggeruk is.”
Kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Die verdagte Charlton Witbooi (28) het op Dinsdag 18 Maart in die Hopefield-landdroshof verskyn. Hy bly in aanhouding tot sy volgende verskyning op Dinsdag 25 Maart.




