Vir die Weskus is die hooggeregshofsaak, wat tans in die Veeldoelige Sentrum in Saldanha plaasvind, geskiedkundig. Dit is die eerste keer dat ‘n saak voor die Kaapse hooggeregshof na ‘n dorp in die Saldanhabaai-munisipaliteit geskuif is.

Selfs vir Weslander is dit ‘n voorreg om die getuienis in ‘n hooggeregshofsaak regstreeks aan te hoor, want sake oor erge geweldsmisdaadsake aan die Weskus word normaalweg in Kaapstad aangehoor.

Getuies en die familie van oorledenes én beskuldigdes moes nog altyd die pad Kaapstad toe aanpak. Vir ‘n weeklikse koerant is dit net nie prakties en tydsgebonde moontlik om ‘n saak in die Kaap by te woon nie.

Die hofsaak sou egter nie kon gebeur het sonder die toewyding van ‘n groep Weskusmense nie – polisiebeamptes, verkeersdienste en buurtwagte, sentrumpersoneel en veiligheidswagte.

Die Vredenburg-landdroshof se hofordonnanse daag ook elke dag getrou op vir diens. Paramedici en brandweerbeamptes is op bystand, sou ‘n noodgeval opduik. Téén alle waarskynlikhede in is voorspooksels van chaos en ontwrigting nie bewaarheid nie. Gemeenskapslede kan gelukgewens word met hul samewerking en ordelike optrede elke dag in die “hofsaal”. Weens die hofintriges wat voor die gehoor afspeel, weet almal nou hoekom hofsake so lank neem om voltrek te word nie.

Die Weskus staan saam om dié geskiedkundige gebeurtenis naatloos te laat verloop. Wel gedaan!

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article