’n Familie is in rou gedompel oor die moord op ’n tiener van Langebaan, net ’n paar dae voor Kersfees.
Ethan Felix (16) is op 20 Desember dood nadat hy met ’n mes aangeval is.
Felix en ’n ander plaaslike tiener (17) het glo in ’n gewelddadige struweling betrokke geraak, waarna die ander tiener met ernstige kopbeserings na die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad geneem is.
Agterna het vriende van die beseerde tiener in die hospitaal, glo uit wraak, Felix noodlottig met ’n mes aangeval.
Volgens ’n familielid van die tiener wat kopbeserings opgedoen het, is sy pa en tannie ’n paar dae later gevra om na die hospitaal te kom om “die masjiene te laat afsit” maar ’n “wonderwerk het gebeur”.
Die familielid sê die seun het tot almal se groot verbasing begin herstel en was wakker toe sy pa en tannie die hospitaalkamer binnegegaan het.
Christopher Rodgers, onderwyser by Langebaan Primêr, het aan Weslander gesê albei tieners was voorheen leerders van die skool.
Langebaan se jeug lê Rodgers baie na aan die hart en hy is diep geraak deur die tragedie.
“Ek hoop Langebaan se ouers leer iets uit hierdie tragiese verlies. Moenie skerm vir jou kind se verkeerde dade nie,” het hy in ’n Facebook-plasing gepleit.
’n Roudiens is reeds op 31 Desember vir Felix by sy huis in Benjaminslot gehou, waarna hy begrawe is.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, word ’n moordsaak ondersoek.




