“Ek wou nog altyd ’n werk gehad het waar ek weet ek mense kan help, maar onderwys bied my die geleentheid om te help sowel as om ’n verskil te maak.”
Só vertel Rozanne Steenkamp, tans ’n graad 4-onderwyser by Diazville Primêr, waar sy wiskunde en skeppende kunste vir graad 4-leerders aanbied.
Steenkamp sê alles wat sy vandag van die beroep weet en die werk wat sy ken, is as gevolg van al die onderwysers met wie sy haar deur die jare omring het.
“Ek kyk vandag nog steeds op na hulle as verwysingsraamwerk van hoe om ’n goeie onderwyser te wees, en ek wil graag ook daardie voorbeeld vir my leerders wees,” vertel sy.
Voordat Steenkamp haar onderwysstudies begin het, het sy eers bemarking studeer en in die bankwese gewerk.
Sy het egter besef dat sy groter planne met haar lewe het en in 2018 besluit om haar werk te bedank en onderwys te gaan studeer.
“Ek het as 28-jarige by die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (KSUT) in Wellington ingeskakel asof ek ’n 18-jarige is wat pas vars uit die skool is en selfs in ’n koshuis gewoon saam met studente wat baie jonger as ek was.”
Steenkamp vertel die pad was nie altyd so maklik nie en dit het laat nagte en harde werk geverg.
Ten spyte van al die uitdagings en verrassings wat na haar kant toe gekom het, het sy elke jaar met die dekaan se merietetoekenning geslaag.
“Dis nie omdat ek slim is nie. Nee, ek is nie slim nie. Dit is [omdat] ek gefokus het op my droom om eendag ’n verskil as onderwyser te maak.
Aangesien Steenkamp ’n groot passie vir wiskunde het, is haar strategie vanjaar om die vak meer prakties aan te bied asook om dit met die ander vak wat sy aanbied – skeppende kunste – te integreer. “Inklusiwiteit in wiskunde is uiters belangrik, juis omdat sommige leerders soms om verskeie redes ’n agterstand het. Sulke leerders sal ek deur ekstra klasse bystaan, maar veral met diagnostiese aktiwiteite in gewone klastyd.”
Sy sê die woorde van die teoretikus Robert H. Shaffer bly haar altyd by.
“Hy het gesê: ‘Ons moet jongmense nie sien as leë bottels wat gevul moet word nie, maar as kerse wat aangesteek moet word.
“Vir my as ’n onderwyser is daar een groot oomblik in die klas wat altyd sal uitstaan, en dit is wanneer ek kan sien ’n kind verstaan iets. Daardie liggie, oftewel kersie wat ek sien aangaan, maak my dag.”





