Raadslid Johan Moolman, voorsitter van die Bergrivier-munisipaliteit se munisipale openbare rekeningkomitee.


Die Bergrivier-munisipaliteit (BM) se finansiële verslag vir die 2020-’21-boekjaar is sonder voorbehoud goedgekeur.

Dié uitkoms van ’n oorsigverslag is op die munisipaliteit se raads­vergadering van 29 Maart deur raadslid Johan Moolman, voorsitter van MPAC, Bergrivier se munisipale openbare rekeningkomitee, aangekondig.

Volgens Moolman het MPAC die BM se vorige oorsigkomitee verlede jaar ingevolge raadsbesluit RVN016 van 9 Desember 2021 vervang.

MPAC se mandaat is om ’n gedetailleerde ontleding en hersiening van die munisipaliteit se jaarverslae te doen.

Die oorsigverslag van die 2020-’21-boekjaar is ingevolge Artikel 129 van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Finansiële Bestuur, Wet 56 van 2003, gedoen.

MPAC moet die insette van die raad oorweeg, asook dié van die portefeulje­komitees, wykskomitees, die publiek, die oudit- en prestasiekomitee, sowel as die insette van die ouditeur-generaal.

Bergrivier-munisipaliteit word ingevolge dié wet verplig om nie langer nie as twee maande ná die voorlegging van sy jaarlikse finansiële verslag die oorsigverslag te doen wat moet verklaar of die finansiële verslag goedgekeur, verwerp of vir hersiening verwys moet word.

Moolman het gesê MPAC het met ’n baie kritiese oog na die finansiële jaarverslag gekyk en het geen groot probleme of foute gevind nie.

BM se finansiële verslag vir 2020-’21 is volgens MPAC se oorsigverslag sonder voorbehoud goedgekeur.

Die voorsitter het verduidelik dat die konsep-jaarverslag op 25 Januarie ter tafel gelê is en dat dit aan die relevante owerhede, asook die publiek vir kommentaar voorgelê is.

Volgens Moolman is aanbevelings en insette van die publiek met erns oorweeg en hy glo MPAC het die BM se finansiële prosesse en jaarverslag akkuraat in sy oorsigverslag weerspieël.

Die departement van plaaslike regering verwag die konsep- finansiële verslag twee maande ná die einde van die begrotingsjaar en die finale verslag moet teen einde Augustus ingedien word.

Moolman het gesê dit gaan moeilik wees om die spertyd te haal.

Hy voorspel die prestasieverslag sal voltooi wees teen dan, maar moontlik nie die volledige verslag nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article