Haar droom om ’n televisieaanbieder te word het uiteindelik ’n realiteit geword.
Kykers sal nou meer vir Petra Mei, ’n bekende inwoner van die Weskus, op die televisiekanaal Kruiskyk TV sien.
Dit was op die jong ouderdom van nege jaar dat sy begin het om gemaklik voor mense op te tree deur toesprake te lewer en as seremoniemeester op te tree. Mei se liefde vir die mediabedryf het begin deur Haas Das se Nuuskas te kyk met Riaan Cruywagen agter die stem van Haas Das.
“Soos die televisiebedryf ontwikkel het, het Cruywagen die Afrikaanse nuus op SABC 2 aangebied. Ek is gefassineer deur die feit dat hy op die televisieskerm is en tegelykertyd met baie mense kan praat en ’n invloed het met die nuus wat hy oordra. Ek het daar die mag van die stem besef,” vertel Mei.
Sy is ook geïnspireer deur Oprah Winfrey en haar wyse van onderhoud- voering en haar betrokkenheid by mense. Oor die jare heen het Mei haarself bevind op Radio Sonder Grense (RSG), Radio Weskus en ander platforms wat sy self gestig het.
Haar reis op Kruiskyk het verbasend vinnig begin nadat sy ’n video geskiet het met behulp van haar goeie vriend Julian Tsepo, die stigter van Young Hope Liberation. Tsepo het hierdie video op sy platform op Donderdag 17 Februarie geplaas.
Die volgende dag, Vrydag 18 Februarie, tot Mei se verbasing het sy ’n oproep ontvang met die aanbod om as aanbieder op Kruiskyk te werk.
“Ek kon dit nie glo nie, want ons het die vorige dag die video gedeel en net die volgende oggend kry ek ’n oproep met die geleentheid.”
Haar eerste program, In Gesprek met Petra, is op Vrydag 1 April uitgesaai met Tsepo as haar eerste gas.
Om met mense te werk, hul stories te hoor en om voor die kamera te sit is waarvoor Mei leef.
“As ek elke dag met mense kan werk vir die res van my lewe, kan gesels, hul lewens kan beïnvloed en sien hoe hul oë blink wanneer ek met hulle gesels, is my dag gemaak.
“Ek het besef die stem is kragtig en dat my stem gebruik kan word as ’n instrument.”
Mei wil mense aanmoedig deur te sê ’n droom gaan ’n droom bly as daar nie ’n aksie plaasvind nie, en dat mense dus aksie moet neem om hul drome te bewaarheid.
“Dit is ook nooit te laat nie, niks is onmoontlik nie, God kan dit vir jou doen.”
In Gesprek met Petra is elke Vrydag om 19:30 op Kruiskyk TV.





