Die personeel van RealNet in Vredenburg het die oudste vroue-inwoner van Huis Wittekruin op Moedersdag met ’n geskenkpak bederf.
Estie de Jager, eiendomsagent by RealNet, sê haar kollegas, die sussies Natashia Kotzé en Lizette Wiseman, aan wie die agentskap behoort, het ’n hartseer tyd agter die rug nadat hul pa verlede jaar oorlede is.
Daarom bring die uitdeel van liefde aan ander wat bemoediging nodig het, die sussies hope vreugde en vertroosting.
Volgens De Jager het sy en haar kollegas besluit om die oudste vroulike inwoner van Huis Wittekruin-tehuis vir bejaardes in Vredenburg se Moedersdag spesiaal te maak.
RealNet, Ronel’s Bloemiste, Tiny Leaf- handgemaakte seep en geskenke, The Baking Mom, Impala-slaghuis en Smart Snacks het almal bygedra tot die geskenkpak wat die RealNet-span na Joyce Kotze (97) by Wittekruin geneem het.
“Wat dit selfs nog meer spesiaal maak, is die feit dat die tannie nie self kinders het nie,” het De Jager verduidelik.
“Dit was wonderlik om haar ook op Moedersdag te kan vier omdat ’n mens nie biologiese kinders hoef te hê om ’n ma te wees nie. Tannie Joyce was ’n ma vir baie mense in haar lewe en ons wou haar hiervoor eer.”




