Die onwettige besit van drank, dwelms, bedreigde vetplante en gesteelde koperkabels het tot die inhegtenisneming van drie mense van onderskeidelik Vredenburg en Eendekuil gelei.
Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die plaaslike polisiekluster, het die Weskus se landelike blitspatrollie en Vredenburg se misdaadvoorkomingseenheid Saterdag 18 Junie patrolliediens op die R27 (Weskus-pad) gedoen toe hulle om 17:45 ’n blou Toyota Corolla voorgekeer en deursoek het.
In die motor se bagasiebak is 302 kg koperkabels met ’n straatwaarde van ongeveer R91 000 gevind. Die vrou (42) en die man (45) in die motor kon nie ’n geloofwaardige verduideliking gee vir die kabels in hul besit nie. In die vrou se handsak is ook R10 000 gevind.
Albei verdagtes is in hegtenis geneem en het Maandag 20 Junie in die Vredenburg-landdroshof op aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde goedere verskyn.
Helfrich het ook bevestig dat ’n man (29) van Eendekuil Donderdag 16 Junie om 23:00 vir die onwettige besit van bedreigde vetplante sonder die nodige permitte en die besit van dwelms en alkohol sonder ’n lisensie in hegtenis geneem is. Volgens Helfrich het die verdagte voorheen ook met die gereg gebots. Hy het Vrydag reeds in die hof verskyn.



