Te gereeld lees ons stories oor kwesbare kinders wat seergemaak en kwaad aangedoen word deur grootmense, maar wat as dit die kinders is wat mekaar kwaad aandoen?

Die storie van ’n negejarige wat verlede week dood is – blykbaar ná ’n onderonsie met ’n ander kind – laat ’n mens sidder. Met wie kan jy dan jou kinders vertrou as hulle nie eens veilig by mekaar is nie? Die probleem strek soveel verder as net dié kinders wat betrokke is, want wanneer jy in ’n samelewing grootword waar jy leer om jouself met ’n wapen te beskerm – selfs as kind – beteken dit die moeilikheid lê om elke hoek en draai.

Hoekom is mense se eerste reaksie deesdae om te baklei en kwaad te doen?

Wat het geword van dinge uitpraat of na mekaar luister?

Hierdie geval, en so baie ander wat weekliks die koerant haal, is slegs ’n spieëlbeeld van Jan Alleman se behoefte om homself en sy wêreld om hom te beskerm.

Baie van ons voel daagliks weerloos teen die samelewing, of dit nou Eskom, die petrolprys of kabeldiefstal is. Daarom wil ons sekerlik onsself en dit wat ons het, beskerm.

Kla, skel en fisieke konfrontasie is sekerlik nie die antwoord nie. Ons moet leer om mekaar weer met respek te hanteer, want dit is die beginpunt om ’n oplossing vir talle van ons probleme te vind, want soos die gesegde lui: “An eye for an eye leaves the world blind.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article