’n Man het Maandagoggend by Ackermans in Saldanha lukraak klere in ’n mandjie gegooi en daarmee by die winkel probeer uitstap.
Toe ’n personeellid hom probeer voorkeer, het hy twee messe uitgeruk en haar daarmee gedreig.
Die opportunistiese rower het Maandagoggend ’n kans gewaag om dié winkel in Saldanha te beroof.
Volgens AO Yolanda Kotze, ’n woordvoerder van die Saldanha-polisie, het die voorval om 09:00 plaasgevind.
Die rower het hom as ’n klant voorgedoen, ingestap en gemaak of hy klere wil koop. Geen ander klante was op daardie tydstip in die winkel nie.
Nadat hy die personeellid met die messe gedreig het toe hy met die onbetaalde klere uit die winkel wou loop, het die rower probeer om die kas met die selfone wat te koop aangebied word, oop te breek.
Kotze sê hy was onsuksesvol om die kas oop te kry, waarna hy ’n personeellid beveel het om hom geld uit ’n kasregister te gee.
Hy het met R420 se kontant te voet gevlug.. Mense met inligting wat moontlik die ondersoek kan bespoedig, word versoek om konst. Nhlakanipho Gumbi by 022 714 8300 te bel.

