Op en af.
“Die misdaad ry wipplank hier.”
Só sê sers. Johnatan Filander, die woordvoerder van Darling-polisie.
Diefstal, roof, aanrandings en die kwaadwillige beskadiging van eiendom is tans prominent in dié gebied.
Filander het aan Weslander verduidelik dat die misdaadstatistieke in dié dorp hemelsbreed van week tot week verskil.
“Een week is dit stil en die volgende week is daar meer misdaad,” het hy verduidelik.
“Ek glo dat werkloosheid ’n bydraende faktor is.”
Volgens Filander is daar ’n hele paar gewoontemisdadigers wat gereeld kat-en-muis-speletjies met die polisie speel.
Een van die dorp se ander probleme is die aankoop van gesteelde goedere, wat ’n mark vir gesteelde goedere skep en tot diefstal en inbrake lei.
Filander sê die polisie kry goeie samewerking van plaaslike skrootwerwe wat inligting verskaf oor verdagte artikels wat mense aan hierdie instansies probeer verkoop. Hierdie inligting het onlangs tot ’n paar inhegtenisnemings gelei.
Tog wil Filander net weer alle skrootwerwe en handelaars van tweedehandse goedere waarsku om nie gesteelde goedere aan te koop nie.
“Onwettige skrootwerwe, wat gesteelde goedere aankoop, gaan swaar gestraf word.”
Die polisie vra ook dat die gemeenskap hulle nie laat mislei deur opportunistiese misdadigers wat sosiale media gebruik om mense te bedrieg en te besteel nie.
“Geen geld moet betaal word vir iets wat jy nog nie het nie,” het hy gesê.
Hy pleit ook by inwoners om saans dubbel seker te maak dat hul vensters en deure behoorlik gesluit is en hul alarmstelsels geaktiveer is.




