Nathan Engelbrecht (21) is as Krieket Suid-Afrika se Plattelandse spelers van die Jaar asook T20-Gemeenskapspeler van die Jaar aangewys.


’n Dekade van ervaring by ’n klub wil gedoen wees, veral as jy onlangs eers jou mondigwor­ding gevier het.

Nathan Engelbrecht (21) is reeds vir die afgelope 10 jaar by die Vredenburg / Saldanha-krieketklub betrokke en al sy harde werk het vanjaar vir hom die eer van Krieket Suid-Afrika (KSA) se Plattelandse speler en T20-Gemeenskap­speler van die Jaar besorg.

Nathan het in die toernooi 47 lopies geneem in sy eerste wedstryd en van toe af het dit net beter gegaan.

“Die toestande in Pretoria was heeltemal anders as hier. Die fasiliteit was goed en jy het makliker lopies gekry, want hier moet jy harder werk vir jou lopies.

“In die eerste wedstryd was ek redelik senuweeagtig. Ek was ongelukkig om nie die 50 te kry nie, maar ons het die middag weer gespeel en toe kry ek 73 nie uit nie. So dit was ’n goeie dag een vir my. Ek het my oefening vertrou en my beste gegee,” vertel hy.

Hoewel Nathan in die T20 uitgeblink het, sê hy dit was sy swakste formaat, maar dit is juis hoekom hy harder gewerk het om in dié formaat te seëvier.

Nathan het op 11 jaar by die Krewe aangesluit aangesien sy laerskool, Steenberg’s Cove Primêr, nie krieket aangebied het nie. “Baie manne kom sluit by die Krewe aan, nuwe manne, en hulle is ouer. Hulle wonder dan wie is dié laaitie, maar intussen speel ek al jare lank vir die klub.”

Benewens krieket het hy ook in rugby uitgeblink en het in 2019 as lid van die Boland-span vir Cravenweek uitgedraf. Krieket is egter sy eerste liefde en hy hoop om binnekort professioneel te begin speel. Intussen is die Vredenburger deesdae sportkoördineerder by die Hoërskool Hopefield en sal binnekort met sy studies begin. Hy hoop om ’n onderwyser te word.

Tot sy kontrak kom, bly die Krewe egter sy tuiste, sê Nathan.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article