Die Weskus het ’n gewelddadige week agter die rug nadat ses moorde tussen 5 en 11 September gepleeg is.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder van die Weskus-distrik, hou die jongste voorval verband met die dood van ’n man (29) van Hopefield wat Sondag 11 September glo deur ’n vriend (26) met ’n mes in die nek gesteek is.
Dié man het omstreeks 11:30 op die misdaadtoneel, op die hoek van Pluto- en Proteastrate in Hopefield, aan sy wond beswyk.
In ’n ander geval in Riebeek-Wes die vorige dag, Saterdag 10 September, het ’n man (35) en sy vriendin (34) in ’n stryery betrokke geraak, waarna hy haar glo met ’n mes doodgesteek het.
Helfrich sê die man is in hegtenis geneem en sou die afgelope week in die hof op aanklag van moord verskyn.
Nog ’n man (47) van Malmesbury is in hegtenis geneem nadat hy Saterdag 10 September om 22:18 na bewering ’n vrou (45) noodlottig met ’n skerp voorwerp in die nek gesteek het. Die beskuldigde en die slagoffer was in ’n liefdesverhouding ten tyde van die aanval.
’n Man (26) is Sondag 11 September om 04:15 in Citrusdal dood nadat hy sy vermeende moordenaar met klippe gegooi het. Die beskuldigde het die oorledene daarna glo met ’n mes doodgesteek.
Volgens Helfrich is ’n vrou (60) van Nuwerus in die Matzikamma-distrik, verlede Maandagoggend 5 September deur ’n inbreker in haar woning oorval en vermoor.
Dit blyk ’n struweling het tussen die inbreker en die slagoffer ontstaan voordat die vrou haar lewe verloor het. ’n Man (33) is in verband met die voorval in hegtenis geneem.
Dieselfde dag, ’n paar uur later, is ’n man (29) van Graafwater in sy woning met ’n skerp voorwerp in sy huis doodgesteek. Die aanvaller, wat van die toneel af gevlug het, is aan die polisie bekend.
Volgens Helfrich is die afgelope paar maande se moorde aan die Weskus meesal gevalle van huishoudelike of geslagsgeweld. Drankmisbruik was dikwels ook ’n faktor.

