Vra vir baie buite die Weskus watter dorp die vissers, strand en see die beste opsom, en vele sal antwoord: “Paternoster”.
Dié dorpie is wêreldwyd bekend vir sy kreef, wit vissershuisies en die bekroonde gastronomiese ervaring wat by Wolfgat te vinde is. Vandeesmaand is Erfenismaand én Toerismemaand, en as deel hiervan fokus Weslander op verskeie van die streek se trekpleisters en geskiedkundige besienswaardighede.
Paternoster het glo sy naam, wat “Onse Vader” in Latyns beteken, gekry na aanleiding van die vissers wat daar veilig uitgespoel het nadat hulle skeepswrakke oorleef het.
San-mense het duisende jare in die streek geleef voordat Europeërs hulle in die vroeë 1800’s daar gevestig het. Tussen die see en veld het die omgewing baie gebied om van te oorleef – mossels, kreef en veldkos het die inwoners gevoed.
Die dorp het later verskeie fabrieke gehad, wat onder meer kreef en vis geblik het. Redro-vissmeer is ook hier vervaardig.
Deesdae is Paternoster Visserye al fabriek wat nog staan. Vandag is die dorp ’n gewilde toerismetrekpleister.
Drink ’n drankie in die legendariese Panty Bar van die Paternoster-hotel waar die drinkplek met stoute broekies en buustelyfies versier is. Wyle Johan Carosini het die voorheen omstrede Panty Bar begin toe die Paternoster-hotel geopen is. Hy en sy vrou, Wilna, het eers die Hoedjiesbaai-hotel besit en later – in 1973 – die Paternoster-hotel gekoop. Dié onderneming behoort vandag nog aan die Carosini-familie.
Die dorp pronk ook met pilsner, honey porter of weiss by Paternoster-brouery se proekamer.
Vir kosfynproewers (foodies) is daar ook Die Gaatjie, wat die EatOut-gids se lys van die 500 beste restaurante in die land gehaal het. En natuurlik is daar Wolfgat, wat al as die restaurant van die jaar by die World Restaurant-pryse in Parys, Frankryk, aangewys is.
Wolfgat se eienaar, die sjef Kobus van der Merwe, het ook ’n paar gesogte pryse agter die naam. Maak ’n draai vir ’n unieke eetervaring wat met ’n verskeidenheid inheemse en Weskus-veldkos gepaardgaan.
Indien ’n wegbreek egter die plan is, is ’n besoek aan die spiraaltrap en lere tot bo in die Cape Columbine-ligtoring in Tietiesbaai ’n moet.
Dié pragtige ligtoring is in Oktober 1936 gebou en die uitsig is beslis besonders. Die ligtoring is glo vernoem na die Columbine, wat in 1829 daar skipbreuk gely het.
Die ligtoring word ook ingevolge die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne beskerm, aangesien dit ouer as 60 jaar is.
Tietiesbaai is ook die perfekte plek vir ’n braai en ’n naweekkamp. Huur gerus ’n e-fiets om die strande te verken, of doen dit te perd.
Maak ’n plan om hierdie maand dié vissersdorpie en sy geskiedenis te gaan verken.




