Netbalkoors het Saterdag Hopefield getref met die eerste netbal-mobiliseringsgeleentheid in aanloop tot die Netbal-wêreldbeker 2023.
Dié internasionale geleentheid sal volgende jaar in die Wes-Kaap plaasvind. Die naweek se geleentheid was die eerste van die departement van kultuursake en sport wat gereed maak vir die Wêreldbeker.
Netbalspelers en ondersteuners het by die Hoërskool Hopefield byeengekom met spanne wat ook kragte gemeet het. Die Weskus-netbalfederasie, wat onlangs as die provinsie se top-sportfederasie vir 2022 aangewys is, was byderhand.
Spelers van Langebaan tot die Bergrivier het die dag van netbal geniet. Die bobaas-netbalspeler Amber Coraizin was ook by die geleentheid.
Coraizin het meer gedeel oor haar netballoopbaan, hoogtepunte en uitdagings. Sy het die jong netbalspelers bemoedig om aan te hou en gesê niks is onmoontlik nie.




