Die stemme van 154 in harmonie kan enigiemand rustig laat voel. Die Vereniging van Kerkkore in die Bisdom van Saldanhabaai het Vrydag 28 tot Sondag 30 Oktober ’n koorfees by die All Saints-kerksaal in Hopefield aangebied.
Die massakoor van 154 lede het by die 27ste koorfees, wat op die been gebring is deur die Vereniging van Kerkkore se voorsitter, Lennie Davids, gesing.
Volgens Davids was die doel van die koorfees om musiek onder kore in kerke te bevorder en hulle te bemagtig.
Die fees het Vrydag begin met ’n herdenkingsdiens vir Covid-19-slagoffers.
“ ’n Omgee en pragtige genesingsatmosfeer was in die lug,” sê Davids. Die massakoor het Saterdag weer opgetree met Anroux Marais, die provinsiale minister van Kultuursake en Sport, ook daar. “Dit was ’n voorreg om haar by die geleentheid te hê.”
Davids sê hulle wil meer daarop fokus om jong mense betrokke te kry en hul Godgegewe talente bloot te stel.





