Lof en klagtes.
Daar is gemengde gevoelens oor die Nuwejaarsfees wat vanjaar by die Pelikaanstrandoord in Laaiplek gehou is.
“Ek beveel aan dat die inwoners vroeër ingelig word oor feeste en geleenthede om ongelukkigheid in die toekoms te vermy.”
Só sê Jimmy Sedon, landgoedbestuurder van die Atlantic Waves-veiligheidskompleks in Laaiplek, nadat sommige inwoners oor die Bergrivier-munisipaliteit se Nuwejaarsfees wat by die nabygeleë munisipale Pelikaanstrandoord op 1 Januarie gehou is, gekla het.
Die betrokke inwoners van Atlantic Waves wat langs die strandoord geleë is, het oor onder meer die dronk mense op die strand gekla, die gemors op die strand die volgende dag en beweerde vandalisme terwyl die fees aan die gang was. Die volgende oggend het daar ook glo kinders in stukkende glasbottels op die strand getrap.
Verder was die inwoners ontevrede oor die versoek van die hoof van die verkeersdepartement ’n aand voor die geleentheid dat die fees se belangrike gaste en kunstenaars binne die kompleks parkeer.
Sedon het aan Weslander gesê die inwoners is geregtig om hul ontevredenheid te deel, maar die klagtes verteenwoordig net ’n gedeelte van die inwoners.
By navraag het die munisipale bestuurder, Hanlie Linde, gesê die munisipaliteit is bewus daarvan dat die inwoners nie ten gunste daarvan was dat die kunstenaars binne die kompleks parkeer nie en daarom is hul versoek eerbiedig.
“Dit was ’n voorstel wat van die polisie se kant af gekom het, maar daar is toe eerder ’n ander plan met parkering gemaak nadat die inwoners nie ingestem het nie,” het Linde verduidelik.
Linde sê egter die munisipaliteit was nie bewus van enige ander ernstige klagtes met betrekking tot die fees nie en dat hulle ook nie enigiets op skrif ontvang het nie.
“By die fees was wetstoepassingsbeamptes en ’n private sekuriteitsmaatskappy wat deur die munisipaliteit gehuur is vir die volle duur van die geleentheid op 1 Januarie van 10:00 tot 19:00 heeltyd teenwoordig. Daar was geen voorvalle wat nie onmiddellik opgelos kon word nie,” het Linde by navraag aan Weslander gesê.
“Daar is streng wetgewing waaraan voldoen moet word wanneer dit by die reël van so ’n geleentheid kom en die munisipaliteit het aan alles voldoen. Die polisie was in beheer van die toestemmings wat verkry is.”
Linde het ook bevestig dat munisipale werkers wel die volgende oggend (2 Januarie) die betrokke deel van die strand gaan skoonmaak het.
Wat die klagtes van vandalisme betref, het Linde verduidelik dat ’n paar bakstene van die munisipaliteit se plaveisel aan die strandoord se kant uitgelig is vir die oprig van die verhoog. Dit sal herstel word.
As daar skade aan die veiligheidskompleks se heining is, moet die inwoners dit amptelik by die munisipaliteit aanmeld sodat die beweerde skade ondersoek kan word.
Linde sê ook die mense wat op Nuwejaarsdag en ná sononder die strand gebruik het, is lede van die publiek en dit het nie betrekking op die munisipaliteit se fees nie.
“Die munisipaliteit het nie jurisdiksie oor die strand nie. Dit val onder die polisie en ons kan ons nie daaroor uitspreek nie,” het sy verduidelik.
Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het vandeesweek aan Weslander gesê geen ernstige voorvalle met betrekking tot drankmisbruik of wangedrag is by die Laaiplek-polisie met betrekking tot die fees aanhangig gemaak nie.
Volgens Linde is die Pelikaanstrandoord Noordhoek se enigste en naaste toegang tot die strand, en die Noordhoek-gemeenskap voel besonder beskermend teenoor hul strand.
Op talle gemeenskapsvergaderings is een van die eerste onderwerpe wat deur die mense aangeraak word gewoonlik die behoud en beskerming van die Pelikaanstrandoord vir die gemeenskap, aangesien daar sprake van toekomstige ontwikkeling op hierdie grond is.
Linde het aan Weslander gesê die strandoord sal die mense s’n bly en die toekomstige ontwikkeling wat wel daar beplan word, het betrekking op infrastruktuur wat met ’n dagstrandoord verband hou.
Linde sê die fees is volgens die munisipaliteit en die polisie goed beplan en uitgevoer en die mense het die geleentheid baie geniet.
Volgens haar het die fees juis struktuur en veiligheid aan Nuwejaarsvieringe by die strandoord aan die gemeenskap gebied, wat mense gelukkig en ordelik gehou het, aangesien die inwoners in elk geval by die strandoord sou kuier op Nuwejaar, met of sonder struktuur.
Sedon se persoonlike mening is dat die Nuwejaarsfees goed gereël en uitgevoer is. Hy het ’n boodskap aan die plaaslike munisipale raadslid gestuur om die munisipaliteit, verkeersdepartement en die polisie te prys vir die “ordelike manier waarop die fees verloop het”.
Sedon glo die ontevredenheid kan in die toekoms vermy word as die inwoners heelwat vroeër van sulke geleenthede bewus gemaak word en die geleentheid kry om hulle insette te lewer.




