Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) het moontlik ’n laer, aangepaste jaarlikse prysverhoging as gevra vir elektrisiteit goedgekeur, maar namate beurtkrag voortduur, is dit vir die publiek min troos.

Nersa het verlede Donderdag in ’n verklaring bevestig die reguleerder het ’n prysverhoging van 18,65% goedgekeur. Dit kom neer op 46,48 c/kWh. Volgens Nersa is die verhoging aangepas nadat ’n “behoorlike regulatoriese proses uitgevoer is”.

Eskom het aanvanklik vir ’n 35%- prysverhoging aansoek gedoen.

Volgens Nersa is sowat 2 000 skriftelike kommentare oor dié voorstel ontvang, met vele wat kommer oor die bekostigbaarheid van so ’n verhoging bevraagteken het.

Rhoda Skei, sekretaris van die Saldanha Bay Black Business Women Association, sê entrepreneurs kan nie ’n prysverhoging bekostig nie.

“Baie klein ondernemings sukkel nog om die effek van die covid-pandemie af te skud en die kragprobleem vererger die situasie,” verduidelik sy.

Skei voel die tyd vir politiek speel is verby. Sy meen die kragkrisis moet met ’n gemengde kragopwekkings­model opgelos word.

“Die man op die straat wil sy vetkoek verkoop. Hy gee nie om oor politiek nie, want die inkomste wat hy van sy vetkoeke kry, moet sy kinders voed.”

Intussen het die Bergrivier se eerste burger ook sy misnoeë oor die verhoging uitgespreek.

“Baie inwoners sukkel reeds om kop bo water te hou en ons gemeenskappe en ondernemings kan hierdie soort verhogings doodeenvoudig nie bekostig nie. Hierdie onrealistiese verhoging kom weens Eskom se onvermoë om ons van elektrisiteit te voorsien, selfs nadat die hele land al op fase ses van beurtkrag geplaas is,” sê die uitvoerende burgemeester van die Bergrivier-munisipaliteit, Ray van Rooy.

In beide die Saldanhabaai- en Bergrivier-munisipale gebiede het inwoners verlede jaar ’n 7,47% styging in hul elektrisiteitspryse gesien.

Van Rooy meen geen mens kan menswaardig leef met die huidige voortslepende beurtkrag nie. “Onder vlak-ses-beurtkrag is daar nie genoeg ure met krag in die dag om genoeg water vir gebruik te suiwer nie.”

Johnny da Silva, voorsitter van die Velddrif Sakekamer, sê dit is juis die verskeie bykomende probleme van die kragkrisis wat soms ongesien bly.

“Ons het ’n krisispunt bereik. Vat ’n boer wat sy landerye moet natmaak. Hy doen dit nie in die dag nie as gevolg van die son en ander faktore, maar nou is daar meer beurtkragure in die aand. Om landerye nat te lei is nie om ’n kraan vir twee ure oop te draai nie, en dit is wat nie in ag geneem word nie,” sê Da Silva.

Hy sê sakelui in die Bergrivier trek beslis swaar. “Dit maak nie saak of jy ’n klein of groot onderneming het nie. Almal sukkel. Dit was die eerste jaar wat ons ná die pandemie bedryf het en nou is dit fase-ses-beurtkrag. Baie mense is mismoedig.”

Volgens Da Silva is die volgende vrees dat addisionele uitgawes vir kragopwekkers en brandstof tot werkverliese kan lei. VVervolg op bl. 2

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article