’n Buurtwaglid van Vredenburg wat ’n aanrandingsklag in die gesig staar, sê hy “het niks verkeerd gedoen nie”.

Sammy Springleer (63), ’n lid van die Ou Dorp-buurtwag in Vredenburg, was gister (Woensdag 15 Februarie) weer in die plaaslike landdroshof met betrekking tot ’n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer, wat in November verlede jaar teen hom aanhangig gemaak is.

“Ek is valslik beskuldig,” het Springleer Dinsdag aan Weslander gesê.

“Toe ek verlede jaar in hegtenis geneem is, het niemand my ’n kans gegun om my kant van die storie te vertel nie,” het Springleer gesê.

“My reputasie en die buurtwag se reputasie is op die spel.

“Tot dusver het die ondersoekbeampte my DNS kom neem, maar nie my verklaring nie,” het Springleer vertel.

Hy het op aanbeveling van die polisie sy skriftelike verklaring van sy weergawe van gebeure ingedien toe hy ’n teensaak van intimidasie teen die jong man aanhangig gemaak wat die aanrandingsklag teen hom ingedien het.

Weslander het in Desember verlede jaar berig ’n jong man van Vredenburg, Garth Erasmus (21), het ’n strafsaak teen Springleer gemaak, nadat dié betrokke lid hom glo aangerand het terwyl hy Saterdagaand 19 November na sy huis gestap het.

Volgens Garth se pa, Arthur, het die buurtwaglid uit sy voertuig geklim en Garth herhaaldelik met traangas gespuit. Hy het glo Garth met ’n knuppel aangerand.

Arthur, wat self ’n aktiewe lid van ’n buurtwag in Saldanha is, het vertel sy seun het moeilikheidmakers, wat besig was om op straat te drink, uit die woonbuurt verwyder toe die voorval plaasgevind het. Sy seun is volgens hom nie die een wat die rus verstoor het nie.

Springleer het in sy verklaring vertel dat hy tydens sy patrolliediens drie luidrugtige jong mans op straat gekry wat gestaan en drink het. Hy het gaan ondersoek instel nadat mense op die buurtwag se WhatsApp-groep gekla het dat die rus verstoor word en bierbottels in die openbaar stukkend gegooi word.

Hy beweer die mans was dronk, aggressief en het nie gehoor gegee aan sy versoek om die bure te respekteer nie.

In sy verklaring vertel hy in ’n neutedop dat die mans hom wou aanval en dat hy vir sy lewe gevrees het aangesien hulle drie jong mans teen een bejaarde man was. Hy was ook bang die mans beskadig sy voertuig, aangesien daar vroeër die aand bierbottels na ’n ander buurtwaglid se voertuig gegooi is.

“Ek het die aanvallers met pepersproei gespuit en die voorste man aan sy arm, wat teen my opgelig was, gegryp om te keer dat hy sy stok teen my voertuig of dalk myself neerslaan.

“Daarna het ek met my vrye hand my knuppel oor sy bene geraps terwyl ek probeer het om sy wapen by hom weg te neem. Ek was onder druk om dit so vinnig as moontlik te doen voordat die aanvaller, wat ’n bottel as wapen in sy hand gehad het, van die pepersproei kon herstel om my aan te val,” vertel Springleer.

“Nadat ek suksesvol die eerste aanvaller ontwapen het, het ek terug in my voertuig gespring om na veiligheid te jaag. Met my uittog het die buurtwaglid wat voorheen op die toneel was, en wat ook met ’n bottel gegooi is, by die toneel opgedaag.”

’n Uur later het die buurtwag weer glo die betrokke jong man op straat gevind. Volgens Springleer het die man ’n video van die buurtwaglede gemaak, terwyl hy hulle vloek, uitjou en uitdaag om hom weer te kom slaan. Springleer sê hulle het nie weer gereageer op die man wat hulle probeer uitlok het nie.

Terwyl al hierdie dinge plaasgevind het, was die polisie deurlopend ingelig van die gebeure en is ’n polisievoertuig uitgestuur om bystand te lewer indien nodig. Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, was die betrokke buurtwaglid se eerste hofverskyning op 8 Desember. Springleer het weer 31 Januarie en 15 Februarie in die hof verskyn. Die saak is met die laaste hofverskyning ’n derde keer uitgestel vir konsultasie met Springleer se prokureur wat nie teenwoordig was in die hof nie, aangesien hy siek was.

“Ek het niks verkeerd gedoen nie. God het my vrede gegee oor hierdie klag teen my.”

Hy hoop die klag sal op ’n gebrek aan meriete van die hofrol geskrap word.

Hy sê dit mag nie toegelaat word dat mense onverantwoordelik en wetteloos optree, terwyl diegene wat die vrede bewaar en die wet moet afdwing, soos misdadigers behandel word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article