En daar staan ons weer op die vooraand van Paasnaweek, en hoewel talle gereed maak om die lang paaie na langnaweek-bestemmings aan te durf, is dit ook ’n tyd om rustig te raak en weer selfondersoek in te stel. Vir Christene is Paasnaweek een van die belangrikste gebeurtenisse op die Christen-kalender en ’n tydperk waarin ons opnuut herinner word aan Jesus se kruisiging en Sy opstanding. Dit is ’n tydperk waarin ons voorraadopname kan doen oor wat die kruis in ons eie lewe simboliseer en dien as herinnering aan die verbond wat ons gesluit het om as volgelinge van Christus te dien. Terselfdertyd herinner Sy opstanding ons om nie moed op te gee nie en om deur te druk in tye waar struikelblokke en die uitdagings op ons pad ons so vinnig kan onderkry en van koers af kan gooi.

Simboliseer Sy opstanding dan nie juis die geestelike oplewing en oorwinning wat daar is wanneer ons op Hom kan vertrou om ons die padkaart te wys om ons deur die moeilike tye te lei en ons steeds standvastig in Christus geanker kan staan nie?

Mag Paasfees vir elkeen die geleentheid bied om ’n bietjie af te skakel en voorraad te neem sonder die gedruis van die wêreld daarbuite. Mag dit kosbare gesins- en familietyd inhou en nuwe herinneringe meebring. Reis veilig. ’n Geseënde Paasnaweek!

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article