’n Bekende van Vredenburg wat die afgelope twee dekades ’n groot impak op die gemeenskap van die Weskus gehad het – “agter die skerms”, soos hy graag benadruk het – het stil heengegaan.
Verkeersbeamptes het vroeg Sondagoggend 9 April op Anthony “Tony” Vaughan (60), oftewel “Mister Vaughan”, ’n bekende in politieke en gemeenskapsake-kringe, se liggaam in sy motor langs die Hopefieldpad afgekom.
Vaughan was Sondagoggend op pad terug van die Kaap, waar hy sy jongste dogter, Antonia, by die Universiteit van Wes-Kaapland gaan aflaai het. Hy het vermoedelik van die pad afgetrek en is nog sittend agter die stuur van sy motor oorlede.
Volgens kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, het die verkeersbeamptes die wit Toyota omstreeks 03:00 op die skouer van die pad opgemerk. Die polisie kon geen sigbare tekens van beserings sien nie. Die Toyota se deure was toe, maar nie gesluit nie, en die motorsleutel was weg.
Vaughan was die afgelope twee dekades, sedert die gesin in 2000 na die Weskus verhuis het, betrokke by verskeie gemeenskapsprojekte, en ten spyte daarvan dat hy soms in die mediaspervuur was oor van sy besluite, het hy voortgegaan om sy passie vir die gemeenskap uit te leef en ’n lojale vriend vir vele te wees.
Vaughan was die voorsitter van die Vredenburg Provinsiale Hospitaal-fasiliteitsraad en ’n wykskomiteelid.
Hy was ook sy vrou, raadslid Eventhia “Venthi” Vaughan, se grootste ondersteuner. “Hy is met die helfte van my hart weg,” het ’n verslae Venthi aan Weslander gesê.
Sy sal haar ‘man-van-integriteit” veral onthou vir die toegewyde pa wat hy was. “Hy sou sy lewe vir sy kinders aflê; hy het ons op die hande gedra.”
Venthi vertel dat Vaughan hom voorgeneem het om nie wrokke te koester nie en aan vergifnis geglo het.
Tony Hawkridge en die Weskus-distriksgesondheidspan het hul innige meegevoel met die Vaughan-gesin betuig. “Mag God se liefde julle omvou, ondersteun en versterk in die dae wat voorlê. Ons plaaslike gesondheidsgemeenskap is soveel armer met sy heengaan.”
Raadslid Theresa Russouw het ook haar medelye betoon en gesê dat sy die nederige, opregte en gawe Vaughan sal onthou vir sy oorvloedige liefde vir sy vrou en gesin.
“Die gemeenskap was lief vir hom en het geweet dat hulle op hom kan staatmaak. Sy liefde vir die gemeenskap is wat ons as vriende gebind het.”
Sy het hom ook geprys vir die positiewe veranderings wat hy by die hospitaal ingestel het.
Vaughan is in Oudtshoorn gebore en getoë, en is in 1998 met Venthi getroud. Dit was sy tweede huwelik. Vaughan laat altesaam ses kinders, Robert Vaughan, Derryl Carlinsky, Anthea Vaughan, Quinton Vaughan, Phylicia Carlinsky-Van Wyk en Antonia Vaughan, asook vyf kleinkinders agter.
’n Lykskouing sal vandeesweek gehou word om die oorsaak van Vaughan se dood te bepaal.
Daar word om 18:00 op Donderdag 13 April ’n gedenkdiens ter nagedagtenis aan Vaughan in die Skilpadsaal op Vredenburg gehou.
.?Die familie vermis Vaughan se twee kenmerkende ringe, goue horlosie, selfoon, beursie met bank- en ander kaarte, ’n skootrekenaar en ’n stofsuier en gereedskap wat in die motor was. Enigiemand met inligting oor die artikels word versoek om die Vredenburg-polisiekantoor by 022 703 6453/6464 te kontak.




