Nagenoeg R2 miljoen se gesteelde goedere, dwelms en ’n Rolex-manshorlosie ter waarde van amper R600 000 is Donderdag in Langebaan gekry.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisie, is vyf mans van Nigerië en een van Zimbabwe – almal in hul laat 20’s – in hegtenis geneem.
Die polisie het ’n wenk uit die gemeenskap gekry en die huis waarin die gesteelde goed gekry is ’n hele rukkie dopgehou voordat hulle toegeslaan het.
Allerhande kommunikasietoerusting, dwelms, die manshorlosie van R589 408,76 en ’n skoon paspoort sonder enige identifikasie is in die huis gekry.
Die verdagtes het Dinsdag (2 Mei) in die Hopefield-landdroshof op aanklagte van die besit van gesteelde goedere en onwettige dwelms verskyn.
Helfrich het benadruk dat nóg sake moontlik bygevoeg kan word.
Die saak is vir verdere ondersoek uitgestel.





