Daar is sekerlik geen woorde om die gevoel te beskryf wat enigiemand ervaar as hulle moet toekyk hoe alles wat hulle oor die jare heen bymekaargemaak het deur ’n brand verwoes word nie.
Dit was die lot van 11 mense wie se wonings die naweek in Middelpos, Saldanha afgebrand het.
Jare se herinneringe, foto’s en belangrike dokumente binne oomblikke deur ’n groot vlammehel verswelg.
Hoe nader ons aan die winter kom, hoe algemener word huisbrande.
Inwoners moet aanpas by die stygende kragpryse en moet ook voorsiening maak om kos voor te berei of hul gesin teen die koue te pantser. Dan nog nie eens gepraat van beurtkrag en die massiewe impak wat dit op huishoudings het nie.
Alternatiewe om dit te doen kos gewoonlik minder geld, maar sluit groot risiko’s in. Veral as paraffien of gas gebruik word.
Oop vlamme is gevaarlik as dit nie reg geblus word nie en indien ’n brand sou ontstaan, kan dit noodlottige gevolge hê.
Dit is tyd dat ons regering uitreik na ons gemeenskappe en bewusmaking rondom hierdie gevare skep.
Dit is wel gerusstellend om te hoor dat die brandweer spoedig reageer. Hulle verdien beslis ’n pluimpie.



