Inwoners van St. Helenabaai betoog Vrydag vreedsaam teen nuwe regulasie wat die Weskus-distriksmunisipaliteit vir die plaaslike visfabriek Lucky Star ingestel het. Foto: Yaël Malgas


Die visreuk wat soms oor St. Helenabaai hang, veroorsaak dat sommige inwoners hul neuse optrek, terwyl ander meen dié reuk beteken daar is werk vir die gemeenskap.

Inwoners van die dorp het Vrydag ’n vreedsame optog tot naby die Lucky Star-fabriek gehou om hul ongelukkigheid uit te spreek teenoor die voorwaardes wat deur die Weskus-distriksmunisipaliteit (WKDM) aan dié aanleg geheg is.

Die voorwaardes bepaal onder meer dat geen stukke afvalvis by die fabriek verwerk mag word nie, vis binne 30 uur gevang en geprosesseer word, en daar laastens gekyk moet word na die gehalte van die vis.

Die betogers meen die munisipaliteit se voorskrifte is eenvoudig nie prakties nie.

“Daar is drie fabrieke in St. Helenabaai en Lucky Star is die enigste wat aan dié voorskrifte moet voldoen, hoewel al drie dieselfde produk verwerk. Ons as die breë gemeenskap kan nie bekostig dat nog inwoners hul werk kan kwyt wees nie.

“Daar is sowat 1 000 werkers wat elk minstens drie ander mense finansieel ondersteun. Misdaad is reeds ’n groot probleem in ons gemeenskap. Verloor nóg mense hul inkomste weens hierdie voorskrifte, beïnvloed dit direk die kos op die tafel van inwoners,” verduidelik Thyrone Williams, gemeenskapsleier en plaaslike raadslid.

Talle inwoners het vreedsaam na die ingang van Stompneusbaai geloop waar ’n memorandum aan Weskus-burgemeester, Boffie Strydom, en David Joubert, munisipale bestuurder, oorhandig is. Die gemeenskap het vertroue in die WKDM se samewerking en glo hulle sal binne sewe dae terugvoering ontvang.

Ingevolge nasionale omgewings­bestuurswetgewing is die WKDM verantwoordelik vir die uitreiking van atmosferiese emissie-lisensies (AEL) aan gelysde aktiwiteite (instansies/industrieë) en is verantwoordelik om binne die wetlike raamwerk voorwaardes te stel waarbinne die industrie moet funksioneer.

“Die voorwaardes wat in die huidige (8 Mei 2023) AEL van Lucky Star gelys word, is nie nuwe voorwaardes nie, maar is beter omskryf as dié van 21 Julie 2022 en dit is gedoen om enige onsekerhede uit die weg te ruim.

“Daar is verskeie samesprekinge geïnisieer om oplossings te verkry om binne die wetlike raamwerk te funksioneer,” sê Heinrich Robertson, munisipale woordvoerder.

Hy bevestig die gemeenskap se memorandum is ontvang en terugvoer sal binnekort aan die gemeenskap verskaf word.

Die aanpassings van die voorskrifte spruit vermoedelik uit klagtes van ’n handjievol inwoners oor die reuk en uitlaat van die Lucky Star-aanleg se vismeelvervaardiging.

Volgens Shelley Point se jongste huiseienaarsvereniging-nuusbrief is 16 klagte in verband met die reuk, tussen Augustus 2022 en Januarie vanjaar, ingedien.

Betogers het Vrydag gemeen die aanleg se bedrywighede kan nie deur ’n handjievol “inkommers” bepaal word nie.

By navraag het Lucky Star gesê hulle werk saam met die distriksmunisipaliteit om die kwessie aan te spreek.

“Ons is verbind tot voortgesette bedrywighede wat nie die omgewing benadeel nie en ons is ewe verbind tot die gemeenskap waarin ons werksaam is omdat ons bewus is van Lucky Star se rol as ’n belangrike, jarelange werkgewer in ’n gebied met werklike sosio-ekonomiese druk,” sê Suleiman Salie, besturende direkteur van Lucky Star Operations.

Salie sê Lucky Star deel die gemeenskap se kommer oor hoe die voorskrifte hul bedrywighede kan beïnvloed. Die maatskappy het die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, gekontak, wat op sy beurt ministers Mireille Wenger, LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede, en Anton Bredell, LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkeling, gevra het om ondersoek in te stel.

Salie sê Lucky Star vertrou ’n oplossing kan gevind word.

“Ons bly vol vertroue dat ’n billike uitkoms op ons lisensievoorwaardes bereik kan word, sodat ons kan voortgaan om die lewensbestaan ??en waardigheid van die mense van die Weskus te ondersteun, en ook die korporatiewe en maatskaplike voedselsekerheidsbeleggingsinisiatiewe wat ons in die gebied ondersteun. Ons sal konstruktief en proaktief werk vir so ’n uitkoms.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article