Stephnie Jackson van Watershed, op die vloer, kry ’n drukkie van Selena, ’n lid van die veearts-span, wat jaarliks sterilisasies in St. Helenabaai kom doen.Foto’s: Madi Pieterse


St. Helenabaai het in April met die Watershed-dierereddings- en rehabilitasiefonds-organisasie (WARRF) se week lange besoek om sterilisasies te doen soos ’n byekolonie gelyk – besig, besig, besig.

Vrywilligers het oral met vanghokke rondgery om katte te gaan vang; ander het meestal katte en honde by die hawe of by die Laingville-sportterrein help inboek, en party het gehelp om diere wat reeds aangekom het, te kalmeer.

Verskeie veeartse het die diere gesteriliseer, behandel en terselfdertyd raad aan diere-eienaars gegee oor die beste versorging vir hul diere.

Sowat 202 honde en katte is gesteriliseer – tussen 65 en 70 per dag.

Stephnie Jackson van Stellenbosch reël en behartig die projek. Haar belangstelling is geprikkel toe sy in 1999 ’n verwaarloosde hond langs ’n hoofweg opgelaai en huis toe geneem het. Dit het haar laat besef dat ’n nood bestaan en vroeg in 2000 het sy as vrywilliger by die Stellenbosch-diere-welsynsorganisasie ingestap waar sy haar tyd gee as werker, geldinsamelaar, aannemer en uitreiker.

In die 23 jaar wat sy die meeste van haar tyd daaraan wy om dierelewens te verbeter, het sy besef geldelike hulp vir diere-welsynsorganisasies is die grootste behoefte en het haar fokus uitgebrei om die diereskuilings in ergste nood te probeer ondersteun.

Geld is egter nie vir die dag-tot-dag-bedryf van diereskuilings nie, maar om sterilisasie-programme te bestuur, vir nood- mediese sorg en verskaffing van kos vir dié wat dit nie kan bekostig nie.

Stephnie het Watershed in 2010 tot stand gebring met die “futuristiese” idee dat troeteldiersterilisering in informele nedersettings kan help om getalle by diereskuilings af te bring.

Weens verskeie redes kan die Watershed- mobiele kliniek, wat die Weskus besoek het, nie ver reis nie, maar hulle besoek plekke soos Napier en Teslaarsdal steeds minstens een keer per jaar om diere te steriliseer.

Watershed bestee al die geld wat ingesamel word daarop om dierelewens te verbeter. . Mense wat kan help deur geld te skenk of betrokke wil raak, kan ’n e-pos-boodskap na Sjr@adept.co.za stuur.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article