Die doel van Omgewingsdag (5 Junie) is om die belangrikheid van ’n gesonde omgewing uit te lig.
Weslander het met dr. Jan Marx van die St. Helenabaai-watergehaltetrust gesels oor die belangrikheid van die werk wat dié organisasie doen en hoekom dit in die gedrang is.
Die St. Helenabaai-watergehaltetrust toets onder meer die plaaslike watergehalte, skakel met rolspelers met belange in en om die Bergrivier en hou strand-skoonmaakdae.
“Ons werk is nie tot St. Helenabaai beperk nie. Monitering en toetsing word ook in die Bergrivier gedoen. Watergehalte word elke twee weke op verskeie punte getoets en ons het jare se rekords opgebou,” verduidelik Marx.
Die voortbestaan van die organisasie is egter nie verseker nie nadat Oceana, een van die trust se grootste borge, sy finansiering onttrek het. Die organisasie moes sonder dié geld reeds sy beplande toetsing vir die “State of the Bay” laat vaar. Hierdie omvattende dokument lewer data oor die gesondheid van die Bergrivier-monding en die omliggende baai-gebied.
“Die Bergrivier-monding is verlede jaar as Ramsar-gebied verklaar. Dit is ’n besonderse eer, maar daar is ook ’n verantwoordelikheid om na dié natuurskoon om te sien,” sê hy.
Danksy die St. Helenabaai-watergehaltetrust se monitering is agtergekom die E.Coli-telling by een moniteringspunt was te hoog en met dié data kon die plaaslike munisipaliteit die probleem die hoof bied, en die water was later weer geskik vir ontspanningsaktiwiteite.
Data-insameling en klagtes is egter nie al wat die span van die trust doen nie. Fabrieke wat afvalwater in die see uitlaat, moet aan streng, dog soms verwarrende maatreëls, voldoen. Ná jare se samesprekings en werk het die trust gehelp om ’n eenvormige beleid vir plaaslike fabrieke te kry. “Ons het vyf jaar lank gespook om eenvormigheid vir permitregulasies vir die fabrieke te streamline, wat meer sinvol is,” meen Marx.
Twee jaar gelede toe voëls en robbe op plaaslike strande begin vrek en uitspoel het, was die trust ook een van die rolspelers wat hand bygesit het.
Die trust se werk is ook proaktief en saam met Unite Against Litter hou hulle gereeld strandskoonmaakdae en inligtingsessies met die onderskeie skole in die gebied.
“Die trust neem ’n skool aan en saam maak ons ’n strand skoon. Benewens die skoonmaak leer hulle ook die belangrikheid om weg te doen met plastiekprodukte. Hulle leer ook hoe om hul rommel te skei.”
Organisasies, individue en veral ondernemings wat sake op of langs die Bergrivier doen, word genooi om by die trust aan te sluit. Die organisasie is afhanklik van borgskappe en ledegeld om voort te gaan met sy werk.. Besoek http://swt.org.za vir nog inligting en om kontak te maak met die St. Helenabaai-watergehaltetrust se bestuur.





