Daar is lig aan die einde van die tonnel vir inwoners van White City.
Die behuisingsprojek by die White City- informele nedersetting sal binnekort begin. Inwoners sê hulle wag al langer as 37 jaar vir behuising. Weslander het in Februarie 2021 berig oor die ongelukkigheid en haglike omstandighede waarin die inwoners hulle bevind (“Inwoners mor oor huise, Weslander, 25 Februarie 2021”).
Michael Marley, ’n inwoner, het vantevore gekla oor die gebrek aan skoon toiletgeriewe en gesê niks word daaraan gedoen nie.
Volgens Ethne Lawrence, woordvoerder van die Saldanhabaai-munisipaliteit, het die munisipaliteit goedkeuring van die provinsiale departement van infrastruktuur gekry en is tans besig met die afhandeling van tenderdokumentasie-voorbereiding wat deur ’n diensverskaffer hanteer word. “Verder het die munisipaliteit ’n versoek aan die provinsiale departement gerig vir ondersteuning aan die bewoners van die gebied waar die projek gaan plaasvind, vir tydelike verblyf-ondersteuning, en word daar tans op terugvoering van die departement gewag.”
Nog ’n inwoner, Charles Visser, sê ná die lang wag is hy baie opgewonde. Hy vind vreugde en sekerheid dat hul behuisingsomstandighede drasties gaan verander. “Ons het baklei vir wat ons gaan kry. Nou weet ons daar gaan regte huise wees wat vir ons hitte sal verskaf,” sê Visser.
Lawrence voeg by die behuisingsprojek behels die installering van ingenieursdienste en die voorsiening van huise aan diegene wat aan die provinsiale en nasionale vereistes vir behuising voldoen.
Wayne Solomons, wat ook in White City woon, het aan Weslander gesê die projek beteken baie vir die gemeenskap omdat hulle al so lank wag.
“Ander gebiede word verbeter, en noudat dié gedeelte opgeknap gaan word, bring dit baie hoop en verligting,” sê Solomons.



